IS MY WAARSKUWINGS NODIG?

 

'n Paar wonderlike goeters gebeur met jou as jy 'n webwerf soos myne begin.

 

Jy ontmoet die wonderlikste en interessantste mense van regoor die wêreld en met baie van hulle bly jy vriende. Jy bou 'n fantastiese hulpnetwerk op en van regoor die wêreld kan jy op mense se hulp en raad staatmaak. Jy word belas met immigrasieprobleme wat jy NOOIT sal kan oplos nie, maar kry ook die kans om BAIE mense te help. Jy bou 'n GROOT databasis van immigrasieprobleme op en jy sien al die tendense in die immigrasiebedryf. Jy deel in baie mense se suksesse en jy deel in baie mense se hartseer en swaarkry. Jy sien hoe onsuksesvolle immigrasie lyk en die ernstige gevolge daarvan en so kan ek aangaan.

 

Ek was in die begin ietwat geskok oor wat mense dink ek vir hulle kan doen en wat mense my vertel en sê. 'n Mens besef gou dat jy met 'n webwerf jou blootstel aan die hele wêreld, al hulle gedagtes en menings en die feit dat sommige dink hulle kan vir jou enigiets sê, omdat hulle dink hulle doen dit anoniem. Jy raak baie dinge gewoond en jy besef dat as jy jou uitgee vir tameletjie jy bereid moet wees om gelek te word en dat jy nie te kleinserig moet wees nie.

 

Die grootste meerderheid van besoekers aan my webwerf wie terugvoer of e-pos stuur (98% van hulle) soek net inligting of stuur net 'n bietjie vriendelike raad of groetnis, maar so twee mense per maand laat toe dat ek hulle ontstel deur dit wat ek sê en moer dan al hulle speelgoed uit die kot uit, gee my 'n status wat ek nie verdien nie en klim dan in my karakter en morele en sedelike waardes in (wat op hulle beste maar twyflagtig is) oorlat ons nou nie dieselfde menings deel nie. Van diegene vat ek maar wat nodig is waar hulle reg is (want hulle is nie altyd verkeerd nie, make no mistake!) en vir die res laat ek maar die water oor die akker loop.

 

Ek word daarvan beskuldig dat ek immigrasieprobleme veralgemeen en dit erger maak as wat dit is , mense afskrik om na New Zealand te kom, arrogant en windgat is en nog 'n ander paar lekker goeters....... Ek gee toe dat dit wel so mag wees, maar as ek net een mislukte immigrasiepoging daardeur kan voorkom sal ek voel ek het my doel bereik, want die afgelope jaar het mislukte immigrasiepogings en amperse mislukkings waarvan ek verneem het of by betrokke was met rasseskrede toegeneem en dit is BESLIS nie 'n grap as jy hier in 'n vreemde land met jou vrou en kinders sit sonder geld, werk, kos en 'n heenkome nie.

 

Ek haal my hoed af vir al die SAners en Immigranteondersteuningsgroepe wie soms op baie kort kennisgewing ons mense (van alle rasse, geslagte en gelowe) bystaan in hulle uur van nood wanneer hulle immigrasiepoging (baie keer nie vanweë hulle eie toedoen) skeef geloop het. Julle is WONDERLIKE mense!

 

SO, ja, om met 'n lang ompad by my vraag se antwoord uit te kom, my waarskuwings IS nodig!

 

Liefde - Louwrens

 

MAAK MAAR NET DIE BLAD TOE - HY HET IN "N NUWE VENSTER OOPGEMAAK.