PRAKTIESE RAAD OOR VRAGHOUERS (CONTAINERS) - 20 Oktober 2005

UIT DIE PERD SE BEK  -  BAIE RAAD EN BOONOP NOG ERG VERMAAKLIK

 

LW: Die pryse vermeld op hierdie blad is meer as drie (3) jaar oud en is NIE meer van toepassing nie. Kry die nuutste pryse by jou vervoerkontrakteur.


Met dank aan Gerda Groenewald en Willem en Elaine Loots

Hallo Louwrens,

Na aanlleiding van jou vraag oor skeepshouers (containers) van SA na NZ wil ek ons ervaring met jou en jou besoekers deel. Ek glo hulle sal baie daaruit kan leer.

Eerstens - ons het in SA van
PASIWA gebruik gemaak. Hulle e-mail is exports@pasiwa.co.za. Hulle telefoonnommers is Tel Pta 012 342-4118 of fax Pta 012 3424117 of kliek op die skakel van PASIWA om na hulle website te gaan.

Daar is 'n 20vt houer (container) wat omtrent R28500 kos - (prys nie meer geldig)
Die 40vt houer kos omtrent R45 600. (prys nie meer geldig)
Albei sluit nie verpakking in nie - dit is 'n aprate bedrag.
Daar is GST en nog soietsie wat hierdie kant in NZ betaal word wat omtrent $220 beloop - jy kan dit net van hier af betaal.
Die assuransie, moet nie höer gaan as R49 000 nie. Sodra jy kom met höer as R50000 moet jou bank 'n moerse vorm invul, dan wil SARS bietjie sien wat jy doen, en voor jy jouself kan kry kom jy eers 6 maande later in NZ aan.(pryse nie meer geldig)
 

Verpakking kos jou tussen R3500 vir meubels tot R9000 vir 'n motorkar en motorfietse en garage goed.(prys nie meer geldig)
Die mense moet vra dat die klomp wat hierdie kant jou goed ontvang en aflewer ten minste iemand bekend is soos NZ van Lines, Elliots en nog 'n paar want glo my, sodra dit te goedkoop hierdie kant word (in NZ), is dit 'n spul gomgatte wat jou goed opneuk!

Jy moet vra hoeveel is die aflewering en defnitief baie belangrik vra ALTYD vir DOOR TO DOOR aflewering. Dit gesê, moet jy natuurlik hier in NZ klaar 'n huisadres hê, anders gaan daardie container in die "storage" staan en jou 'n goeie bedraggie kos aan stoorgeld - vra my suster-hulle.


Die skeepshouer (container) vat so tussen 35 en 40 dae voordat jy weet waar hy is op NZ bodem.
Waarsku die mense dat hulle voor die tyd by Pasiwa die kontak email/tel van die mense in NZ wat aflewer moet kry, baie belangrik want die lot kan jou goed lank hou as hulle jou nie kan kry nie.
 

Hulle moet ook 'n inventaris by hulle paspoorte hou (so belangrik is dit) want die lot hier wil dit sien sodra hulle jou container kry, jy moet ook 'n vorm invul wat jy erken dat jy self die goed gepak het, weet wat daarin is (dit is indien daar drugs gevind word, dan is jy in die k*k) Piet het sommer na die lot gery en bygestaan toe hulle sy container oopmaak.
 

Hulle maak jou container oop met of sonder jou toestemming en pak jou goed uit, doane gaan dan heerlik deur alles waarna hulle dan jou goedjies weer inpak en aflewer by jou huis. Jy is nooit seker of jy alles weer kry nie, so moet nie eers jou siek maak daaroor nie, behalwe as jy bystaan soos Piet en Elaine-hulle.

Indien iemand vra oor karre invoer, laat ek vir jou sê - DIS NIE DIE MOEITE WERD NIE, want daar is 'n lot k*k wat jy eers moet doen voordat jy net die ou containertjie bespreek - invoerpermitte, polisieklarings, lisensiegelde ens.(Not for the faint hearted)

Pasiwa kan jou 'n kwotasie gee vir net die container oorbring of ook om dit te pak. Dit beteken nie dat hulle jou onderbroeke gaan inpak nie, maar slegs jou meubels gaan toedraai met "bubblewrap" of cardbord vir die hout. Hulle verpak dan ook die dag wat die "container" by jou afgelewer word al die goed binnein. Die mense moet vra of hulle vir hulle iemand kan aanbeveel wat die goed kan pak en inpak vir versending.

Of indien hulle verkies kan hulle self die goed in die vraghouer laai sodra dit op hul erf afgelaai word.
Probeer altyd vra dat die container op 'n Vrydag afgelaai word vir optel weer op die Maandag oggend. Dit kos niks extra nie maar gee jou tyd om die goed binne in te kry. Natuurlik as jy vrou alleen dit doen, kry maar 'n stuk of 6 vriende om te help, veral iemand wat ten minste weet hoe om dit te doen is belangrik, of familie wat weet hoe. Moet nie moeilikheid soek deur dit te doen self as daar nie iemand is wat kennis het van pak nie, dan moet jy weet gaan jou goed opgedonner hier aankom, die boot skud dit uitmekaar!

Betaal liewers daardie ekstra R3500 of wat en laat die mense wat die houer verskeep die goed inpak in die container, moet dit maar eerder nie waag om self die container te probeer pak nie. Betaal liewers daai R3500.00, anders verseker hulle in elk geval ook nie die ding as jy self pak nie.

Louwrens, sê asb vir die mense om nie te woes motbolle in die containers te sit nie, ons is deur dom NZ poepolle gesê om dit te doen en jou goed stink 3 maande daarna nog steeds daarvan, die hele osoonlaag is in sy m**r van al die vismotreuk wat ons hier aangebring het! Dit is sommer nonsens stories, 'n paar is ok en help so bietjie met die spinnekop situasie.

Hulle moet regtig die wiele van tuingoed (grassnyers, ens) en tuingoed baie mooi was met ontsmettingsmiddel en toedraai met plastiek - dan voel die doeane baie trots op hulle. Ek het al my tuingereedskap sommer bygekom met 'n verfkwas en pva. Die ouens wat dit afgelewer het, het nou nog nie herstel van die weird tuingoed wat alles dieselfde kleur het nie, heeltemal verblind deur al die pragtige kleur! Veral in die land waar alles die een kleur van grys is.....

Jy bel die mense en vra vir 'n kwotasie vir 'n 20vt of 40vt vraghouer (container). Jy kan omtrent 'n vier (4) slaapkamer se huisraad in 'n 20vt kry, maar nie as jy baie goedjies ekstra het soos gereedskap (ek praat van houtsnymasjiene, kajake, moerse baie grasmasjiene, tuindammetjies, beelde, ens nie), dan moet jy maar liewers die 40vt vat, en probeer om te hoor of daar nie mense is wat wil met jou deel nie. Die "container" mense kan jou ook sê of daar mense is wat navraag doen vir "container sharing" veral mense wat nou weer baie minder goedjies oorbring.

Vertel vir die mense dat alhoewel dit duur is aanvanklik, moet hulle eerder maar alles saambring want die goed kos hier net so veel soos daar, met een GROOT verskil naamlik dat jou swaarverdiende geldjies in 5 gedeel word voordat jy hierdie goedere kan koop hier in NZ.
 

Vertel hulle dat plastiek bakke (soos asblikkies, wasgoed droograkkies, floorwizz thing-ama-zing, grasmasjiene, tuingrawe ens) net soveel kos hier as daar en dat jy dit baie meer nodig het hier omdat jy self die tuinjong gaan wees. Laat hulle maar die skottelgoedwassertjie los - jy weet hoekom - elke huis in NZ het klaar een.

 

Vertel hulle dat in die meeste huise kan ons nie ons yskaste, wasmasjiene, tuimeldröers, ens inkry nie, maar dat dit hond duur hier ook is, so tensy hulle goed uitmekaar val, afstam van die oorle oumagrootjie, bring maar saam, was eerder wasgoed in die garage met die moerse groot wasmasjien en hou jou geld om te oorleef vir die eerste paar maande.

Ons "containers" was altwee onder 'n vergrootglas gevat, alle bokse is oopgemaak ingeloer, al my skulpe is uitgegrou (waar dit weggesteek was) man dit voel of tot Coen se onderbroeke onder die mikroskoop was indien daar dalkies drugs of saad daarin versteek is. Man, die lot was op so 'n "high" met my "containers" dat hulle nou nog sweef, maar ten minste het ons al ons flentergat goedjies hier en nou kan ons aangaan. Ons het baie skade gely met meubels wat gekraak het (tafel) gekrap is, die kar en motorfietse is baie gekrap, sitplekke oopgeskeur, glas gebreek, ens, maar dit is nog steeds die moeite werd.
 

WAARSKUWING:  Jy moet weer in NZ BETAAL vir inspeksie van die vraghouer (container) deur MAF (Ministery of Agriculture and Forestry) en dit gaan jou ongeveer NZ $600 kos vir 'n 6 meter vraghouer. Wees maar net voorbereid daarop en hou die geld gereed. (Dank aan Michael Holtzhausen)


WILLEM VOEG NOG DIE VOLGENDE BY:

Al wat ek kan sê is dat die mense nie die goedkoopste agent of "container" moet neem nie. Ek het ook agtergekom dat mens bietjie oor die pryse kan onderhandel met die klem op "bietjie"!

Ons het ook Pasiwa gebruik en hulle was baie goed. Pragtig gepak en niks het gebreek nie.

Die probleem het hierdie kant gekom met hul NZ "partner" wat dit hier verder moet neem. Dit is NZ Van Lines. Hulle het ons container vir langer as ‘n maand “vergeet” in Auckland, toe ons weer bel en hulle uittrap, toe skielik moet ons die stoorgeld vir die maand betaal. Nadat ek al my speelgoed uit die "cot" gegooi het en 'n m**rse "tantrum" gegooi het, is die goed binne ‘n dag hier afgelaai sonder enige kostes!

Soos ek se, elkeen het maar ‘n probleem. Die een so k*k soos die ander een. Hulle moet net seker maak dat hulle die dokument wat die "container"-mense hulle gee soos goud bewaar en by hulle hou in die handsak en dan ONMIDDELIK opvolg as hulle hier aankom!

Gerda kan getuig dat motors, motorfietse en garage tools agter gehou word vir inspeksie. Dit het weer sy eie probleme! Moenie iets probeer wegsteek of nie verklaar nie, jy kan jou regmaak vir helse groot boetes!

 

ANDER VERVOERMAATSKAPPYE IN SA VAN WIE IMMIGRANTE OOK GOEIE TERUGVOER GEGEE HET:

 

Die ander lot is Mastermovers in Sandton. Nie jou duurste nie, maar duidelik heelwat duurder maar die lot ken hul storie.

 

Ek het ook verneem dat Magna International Movers al 'n hele paar mense se "containers" na NZ gebring het en dat hulle ook 'n uitstekende diens lewer en die moeite werd is om te kontak. Hulle vra glo R63 000 om 'n 40 voet container na NZ te verskeep en by jou huis af te lewer - die versekering is nie by hierdie prys ingesluit nie en die versekering kos glo iets soos R12 000 bo en behalwe die R63 000 vir die container.(prys nie meer geldig)