HOE IS NEW ZEALAND? ....... GROEN!

 

Dit is een van die mees algemene vrae wat ek kry en daaruit het ek geleer bedoel besoekers aan hierdie werf dat hulle 'n redelike oorsig verwag van die land en die mense. Hoe lyk die geografie, die weer en die Kiwi's se gesindhede.

 

Hieronder volg my EIE (en baie subjektiewe) indrukke:

 

 

OP HIERDIE BLAD

 

 

PARADYS MET 'N KINKEL

 

New Zealand kan nog sekerlik as 'n soort van paradys op aarde beskou word, afhangende van uit watter hoek jy daarna kyk en vir my bly dit steeds 'n wonderlike plek. Ongelukkig is daar ook maar altyd 'n slang in enige paradys en solank jy weet waar die slange is kan jy hulle vermy en jou paradys geniet. Lees ASSEBLIEF eers deur die hele werf voordat jy 'n vraag deurstuur. Ek help graag en beantwoord graag vrae, maar ek kry ook BAIE vrae (veral oor werksoek), waarvan die antwoorde reeds op die webwerf is, net omdat besoekers nie deur die hele werf wou gaan nie.

 

 

DIE EEN EN ANDER OOR NZ

  • New Zealand is ongeveer 2000Km oos van Australië en hulle word geskei deur die Tasmansee.

  • Die bevolking van NZ is 4.2 Miljoen

  • Suid-Afrika is ongeveer 4.5 keer groter as New Zealand.

  • New Zealand sal amper 29 keer in Australië kan ingaan!!

  • New Zealand bestaan uit twee groot eilande (Noord-Eiland en die Suid-Eiland wat bekend staan as die "Mainland").

  • Die hoofstad is Wellington.

  • Die Twee eiland word deur die "Cook Strait" geskei wat op sy nouste 20km is.

  • Twee derdes van die bevolking bly in die Noord-Eiland met ongeveer 1.1 miljoen in Ackland.

  • Van die bopunt van die Noord-Eiland tot die onderpunt van die Suid-Eiland is dit 1600Km (van Kaapstad tot by Beitbrug is dit 1948Km).

  • Daar is ongeveer 48 miljoen skape en 4 miljoen beeste in NZ.

  • Na raming is daar ongeveer 45 000 Suid-Afrikaners in New Zealand.

 

GESINDHEID & VOORUITGANG

 

Die ding of saak waaroor Kiwi's nie kla nie is nog nie uitgevind nie (amper soos Suid-Afrikaners)!! Hulle sal oor ENIGIETS kla of beswaar maak en selfs die onbenulligste goed (vir ons) sal die TV-nuus haal en vir dae daarna nog bespreek en uitgepluis word. Hulle besit die vermöe om oor alles en ENIGIETS 'n moerse "issue" te maak. Kom kyk maar self. Dit wil 'n mens soms teen die mure uit dryf dat hulle so "narrow-minded" kan wees en 'n mens maak moeilik vrede daarmee. Jy leer maar om dit te verdra en daarmee saam te leef, maar dit bly maar jou gat krap daar waar dit nie jeuk nie.

 

Deesdae begin ek darem ook meer positief dink oor die gedurige geklaery en miskien is dit omdat hulle so oor die kleinste goedjies kla dat daar baie selde iets groots hier verkeerd loop?!

 

Al wat hier sonder probleme ontwikkel word is woonbuurte. Vir die res is ALLES in Kiwiland daarop gemik om vooruitgang, sover moontlik, in die wiele te ry. Van die Kiwi's se gesindheid teenoor ontwikkeling tot die wette wat hulle maak is daarop gemik om ontwikkeling te kortwiek of te stuit.

 

Gewoonlik word dit alles oor die boeg gegooi van bewaring van die omgewing of hulle vals beeld van "clean & green". Dinge soos die "Resource Management Act" en die "environment court" word tot die uiterste ingespan om ontwikkeling te keer. Teen ENIGE projek of ontwikkeling SAL daar ALTYD 'n menigte wees wat besware GAAN aanteken - dis omtrent al waarvan jy doodseker kan wees. Lyk my "BESWARE" is omtrent al wat ten volle ontwikkel word.

 

Die gevolg hiervan is dat ontwikkeling baie stadig plaasvind en dat almal kan sien dat dit enorme probleme gaan veroorsaak in die toekoms. Auckland is ongetwyfeld die "powerhouse" van New Zealand en dis van uiterste belang vir NZ dat Auckland 'n skoon en vooruitstrewende stad sal bly, maar tog haat plattelandse Kiwi's Auckland met 'n passie wat 'n mens stom slaan. Dis asof dit 'n lewendige ding is wat hulle haat en kan ek net nie, hoe ek ookal probeer, dit klein kry hoe hulle so "narrow-minded" en kleingeestig kan wees nie.

 

Hierdie "haat" vir vooruitgang veroorsaak dat 'n oplossing vir Auckland se verkeersprobleme nog jare in die toekoms lê en die stad se vooruitgang BAIE BAIE ERNSTIG gaan benadeel. 'n Blinde man kan dit met 'n stok voel, maar vir die meeste Kiwi's is dit glad nie so ooglopend nie. Kragvoorsiening aan Auckland is tot breekpunt gerek en die stad benodig DRINGEND (soos in 10 jaar gelede al) 'n nuwe voorsieningsnetwerk, maar boere en ander belangegroepe in die Waikato (waardeur die nuwe voorsieningslyne moet gaan) het gesweer hulle sal tot hulle laaste druppel bloed baklei om dit te stop! VIR WAT?

 

Ek het nie 'n probleem daarmee as die Kiwi's NZ vir ewig as 'n klein groen plasie wil bewaar nie, maar dan moet hulle NIE kla as die land se ekonomie stagneer en selfs agteruit begin gaan nie. As jy van klein groen plasies hou, dan sal jy beslis van NZ hou. Ek hou van klein groen plasies en daarom bly ek hier!

 

Kiwi's het 'n opinie oor ABSOLUUT ALLES onder die son en is nie skaam om hulle opinies luidkeels te verkondig nie. Hulle gee ook nou nie juis om of hulle opinie op feite gegrond is of nie, solank hulle net gehoor kan word. Male sonder tal het ek al ervaar dat hulle opinies meer gegrond is op emosie, vrees en persoonlike voorkeure as op feite.

 

Hierdie beheptheid met hulle persoonlike opinies is onlangs ongelooflik goed beskryf deur die besoekende Amerikaanse komediant Wilson Dixon toe hy gesê het: "They don't let a low level of intelligence come in the way of forming a strong opinion"! Nou ja.

 

Verder help die burokrasie in NZ ook nou nie juis dinge aan om vinniger te gebeur nie en hieronder is my siening daarvan:

 

'n Kort ,dog volledige, beskrywing van Kiwi's se beheptheid met die burokrasie kan gevind word in die beskrywing van die "Vogons" in die "The Hicthhikers Guide To The Galaxy" deur Douglas Adams waar hy sê: "They wouldn't even lift a finger to save their own grandmothers.... without orders signed in triplicate, sent in, sent back, queried, lost, found, subjected to public enquiry, lost again, and finally buried in soft peat for three months and recycled as firelighters!"

 
 

"LEWENSKOSTE (Cost of living)"

 

Dit was nog altyd ons ervaring dat 'n mens met 'n bietjie beplanning en oordeelkundige aankope redelik maklik kan oorleef in NZ. As jy gewoond was aan 'n "WOOLIES" lewe in SA gaan jy nie met die gewone ou se begrooting hier uitkom nie, maar as jy bereid is om 'n bietjie pryse te vergelyk en jou inkopies by die "commen" mense se supermark (Pak 'n Save) te doen gaan jou maag redelik lekker vol bly.

 

Die afgelope jaar het ons opgemerk dat sekere artikels se pryse buitengewoon gestyg het en dat ons deesdae 'n hele paar artikels moet oorsien, of die "no name brand" moet vat of net eenvoudig minder daarvan moet koop en verbruik. Hierdie artikels is onder andere, brandstof, brood, melk, kaas en vleis.

 

Ons koop ons beesvlies grootmaat deur saam met vriende 'n bees te koop en dit by die "Home Kill" te laat verwerk. 'n Halwe bees se vleis werk dan so ongeveer $4.80/kilo uit. Die "Home Kill Butchery" doen alles vir jou en gaan haal selfs die bees op die plaas en al wat jy kry is netjies verpakte sakkies vleis. Die enigste kuns is om net eers 'n boer te kry wie bereid sal wees om 'n bees teen 'n billike prys aan jou te verkoop.

 

Op ons webwerf South African Kiwi het ons 'n "Cost-of-living" pryslys met meer as 300 pryse van alles wat jy elke maand in 'n huishouding gaan nodig kry. Met daardie pryslys kan jy reeds voor die tyd vir jou 'n huishoudelike begroting uitwerk en weet wat jou maandelikse uitgawes gaan wees. Die pryslys bevat pryse van Kos tot Karre en word elke maand op datum gebring. Die pryslys kos net $12.00 en ek dink nie 'n mens behoort jou immigrasie te beplan sonder dit nie.

 

 

DIE WEER

 

Dit reën NIE elke dag in New Zealand NIE! Dit is 'n baie mooi groen land, danksy duisende tonne kunsmis en net soveel beesmis en die eerste paar maande hier het ek gesmag om net weer 'n bietjie bruin of geel te sien en sou ek wat wou gee om op 'n duin in die Kalahari te kon staan, maar 'n mens raak dit gewoond. NZ is 'n winter-reënvalstreek en dit reën in die winter soos in die Boland.

 

Dit kan vir dae aaneen reën, maar daar kan ook 'n maand verbygaan waarin dit net een of twee dae reën. Daar is beslis genoeg lekker warm sonskyn dae om die natuur en sport te geniet en die aanpassing was beslis nie vir my vreeslik nie. Ons het in die Boland gebly voor ons immigrasie hierheen en die ooreenkomste was merkbaar. As jy baie ernstig is omtrent die weer in NZ gaan na die NZ Weerburo (http://www.metservice.co.nz/default/index.php) se webwerf en werk 'n bietjie daar deur hulle syfers.

 

Dit is net die SON wat nie hier met hom laat speel nie, want Kiwiland is direk onder die gat in die osoonlaag geparkeer en 15 minute is omtrent die maksimum wat jy onbeskermd in die son kan deurbring, daarna moet jy ernstige sonbrandghries (nie olie nie GHRIES!) of klere aantrek of jy gaan WEET daarvan.

 

DAGLIGBESPARING (Daylight saving time) 

 

Op die laaste Sondag in September word alle horlosies in NZ een uur vorentoe gestel en op die eerste Sondag in April word die horlosies weer een uur terug gestel.

 

Van einde September tot begin April is NZ se tyd dus 11-ure voor Suid-Afrika s'n en nie die gewone 10-ure nie.

 

Die gevolg van hierdie daglibesparing is dat in hoog somer die son eers 10-uur (22:00) in die aand onder gaan en dat jy 'n lekker laaaaang dag het om jou dinge in te doen. Ongelukkig verander dinge in die winter na die ander kant toe en is dit al teen half ses (17:30) saans donker. Mens kan ook nie altyd wen nie, nê?

 

Ek hou nogal van dagligbesparing, maar ander mense hou weer niks daarvan nie.

 

As jy meer wil weet oor "Daylight Saving Time" in NZ KLIEK HIER asseblief.

 

 
 

"NANNY STATE" & "TALL POPPIES"

 

Omdat new Zealand bekend is as 'n "Klaslose" staat (egalitarian state), waar almal (veronderstel is om) gelyk is probeer almal ook om almal "gelyk" te hou en kry jy 'n verskynsel wat bekend staan as die  "Tall Poppy Syndrome" en hulle sê iemand wat daaraan ly is gewoonlik "neither Tall nor a Poppy", maar hoe dit ookal sy dit is baie lastig en jy kom dit orals teë.

 

Nou die "Tall Poppy Syndrome" kom maar net daarop neer dat hulle enigiemand wie uitstyg bo die ander of wie suksesvol is sal kritiseer of probeer afbreek (cut down to size) om hulle weer gelyk te kry met almal. Jy sal dit orals teëkom en hulle spog selfs daarmee!!

 

'n Ander ding is ook dat NZ bekend staan as 'n "Nanny State" en vir alles en oor alles is daar reëls en regulasies en die staat probeer op selfs die laagste vlak die lewe vir jou reël. Dit kan 'n pyn in die gat wees!

 

 

PAAIE & INFRASTRUKTUUR

 

Die meeste paaie in NZ is geteer, selfs die meeste plaaspaaie en ALLE paaie het name. Selfs die kleinste kronkelpadjie na jou plot of plaas toe het 'n naam en elke plaas het 'n straatadres en die pos word by jou posbus afgelewer met sulke rooi bakkies gemerk "Rural Post"! Infrastruktuur en dienste is goed en in 99% van gevalle kan jy 'n telefoon en kragverbinding kry op dieselfde dag wat jy in jou huis intrek - mits jy hulle natuurlik laat weet!

 

Hoewel geteer is die paaie nie altyd in 'n goeie toestand nie en op alle paaie is daar PERMANENT konstruksie of herstel aan die gang. Die spoedbeperking in NZ is 100Km/u, maar die gemiddelde snelheid wat jy kan handhaaf tussen stede en dorpe is so ongeveer 80Km/u en as jy 'n rit uitwerk is dit die spoed wat jy gebruik. Paaie is soms erg nou en kronkelrig as gevolg van die geografie. Enigiemand wat al die pad van Otorohanga na Kawhia gery het sal weet dat een of almal motorsiek gekry het! Dit is 'n ekstreme voorbeeld, maar dit kan so erg raak.

 

 

MISDAAD IN NEW ZEALAND

 

In teenstelling met Suid-Afrika is misdaadstatistiek in NZ nie 'n geheim nie en vryelik beskikbaar vanaf die NZ Polisie se website. Dit word ook nie "gekook" om politici te pas nie!

 

Uit die misdaadstatistiek vir NZ in 2007 het ek die volgende gevolgtrekkings gemaak en vergelykings opgestel nl:


Vir 2007 was daar 88 moorde in NZ en die oplossyfer was 88.6%. Dis minder as een moord elke 4 dae en as jy die bevolking van NZ met 12 sou maal om dieselfde bevolking as SA te kry sou NZ met dieselfde bevolking as SA 1056 moorde per jaar gehad het. SA bereik daai syfer in twee weke!!! As NZ dieselfde bevolkingsgetal as SA gehad sou die moordsyfer in SA nog steeds byna 26 keer hoër as NZ s'n gewees het! Ongelooflik.

 

In NZ is ongeveer 85% van moorde tussen mense wat mekaar ken of een of ander verhouding gehad het. "Random" moorde gebeur slegs in 15% van gevalle, d.w.s. van die 88 moorde in 2007 is slegs 13 mense deur vreemdelinge vermoor. Ek dink die kanse dat jy in NZ vermoor sal word is so skraal dat jy nie eintlik eers daaraan hoef te dink nie.

 

Die misdaadsyfers vir 2007 lyk selfs beter as dié vir 2006. Vir besoekers se gerief het ek die volledige misdaadstatistiek vir 2005, 2006 en 2007 van die NZ polisie se website afgetrek en die MISDAADSYFERS IS HIER BESKIKBAAR (Wees geduldig, die file neem 'n rukkie om af te laai).

 

Op die volgende blad sal jy al die misdaadstatistiek vir NZ kry:

http://www.police.govt.nz - Gebruik die "Search" funksie en tik in "Statistics" en jy sal by die nuutste misdaadstatistiek uitkom.

 

 

 
 
 

^^ TERUG NA BO

 
Kopiereg 2001. Kiwiboer.co.nz. Goedgunstiglik gehuisves deur www.virafrikaans.com