|
Probleme op Auckland Lughawe
Hoe desperater dit in SA
gaan hoe desperater raak die SAners om uit die land te kom en ek het BAIE
simpatie met my landgenote wat uit SA "vlug" om 'n heenkome hier te kom soek,
MAAR in hulle desperate pogings om na NZ te kom, maak hulle groot foute wat
veroorsaak dat hule by Auckland Lughawe voorgekeer en teruggestuur word.
Ek wil net so ligweg aan hierdie sakie raak, want ek kry tonne e-mails daaroor.
SAners kan NZ vir 3 maande besoek sonder 'n besoekersvisa/permit. Dis egter daar
waar die probleme begin, want moenie vergeet nie dis 'n BESOEKERSVISA nie 'n
WERKSOEKVISA nie en volgens die besoekersvisa moet jy 'n bona fide besoeker wees
wat 'n tydjie hier wil kuier, hopelik tonne geld uitgee en dan weer terug gaan.
Nou wat is dit wat veroorsaak dat die Immigrasiebeamptes jou voorkeer op
Auckland lughawe, besluit jy is nie 'n bona fide besoeker nie en jou terug stuur
SA toe met die volgende vliegtuig uit NZ?? Wat sê jy nou as jy op die lughawe
gevra word "WORK"
or "PLEASURE"?
1. Eerstens ALMAL op Auckland lughawe WEET SAners wil graag in NZ kom bly en dat
hulle daagliks in dosyne hier aanland. So as jy 'n SAner is word jy dadelik 'n
teiken vir doane en Immigrasie as jy hier afklim by die lughawe. Dosyne word
sonder probleme deurgelaat, maar wees verseker op elke vlug SAL 'n paar SAners
uitgesonder word vir deeglike ondersoek.
2. SAners en veral Afrikaners loop en praat in Afrikaans oor hulle planne en
dink nie hulle word verstaan of gehoor nie. Daar is BAIE SAners wat op die
lughawe en by Immigrasie werk wat elke woord verstaan wat jy in Afrikaans praat
en as jy so jou mond verby praat in Afrikaans word jy verstaan. Daar is deesdae
nie meer 'n plek waar jy kom waar daar nie minstens een persoon is wat
Afrikaans verstaan nie. VERAL in plekke soos Auckland en Hamilton. So hou jou
bek (om dit nou reguit te stel) en moet dit nou nie wyd en syd verkondig dat jy
hoop die agent kom haal jou op die lughawe of jy hoop om gou 'n werk te kry nie,
ens. BIG MOUTH, BIG TARGET!
3. As jy 'n bona fide besoeker is MOET jy jouself kan onderhou vir die tydperk
wat jy hier is en die bedrae vir onderhoud word so rofweg gestel op NZ $1000 per
persoon per maand. So as julle 4 persone is in die geselskap en julle sê julle
kom vir 'n maand hier bly sal jy aan NZ Immigrasie moet kan bewys dat jy
minstens NZ $4000 PER MAAND van verblyf (ongeveer R20 000) by jou het of toegang het tot daardie geld
deur hetsy 'n Kredietkaart of reisigerstjeks of watookal. Selfs al sê jy jy gaan
by familie of vriende bly sal daar nog van jou verwag word om 'n aansienlike
bedrag beskikbaar te hê om jouself te onderhou. So as jy hier aankom om vir 3
maande te bly moet jy verwag hulle gaan so ongeveer van jou verwag om NZ $3000
per persoon beskibaar te hê. Dis een van die mees basiese goed waarmee hulle
SAners uitvang - die eenvoudige vraag: "Hoe gaan julle julle self onderhou vir
die tyd wat jy hier is??" Om net te sê julle gaan by familie bly is NIE goed
genoeg nie!
4. SAners kom hier aan met AL hulle besittings in koffers gepak en verwag dan NZ
immigrasie moet hulle aansien vir bona fide besoekers. Watter besoeker op
vakansie pak al sy familie foto-albums, Afrikaanse CD's, die troeteldiere, ouma
en adresse van sy familie en vriende in SA in??
5. CV's, werkrekords, getuigskrifte, graadsertifikate, kwalifikasies en
korrespondensie met werkgewers, personeelkonsultante en immigrasieagente of
enigiets wat jou met werk kan verbind in jou bagasie is 'n "dead give away" dat
jy BESLIS NIE 'n bona fide besoeker is nie en jy sal op die lughawe omdraai as
Immigrasie dit in jou bagasie vind as jy net op 'n besoekerspermit hier is.
Tref reëlings om jou dokumentasie vooruit te stuur
na iemand wat jy ken of vertrou of stoor jou CV, ens. "online" waar jy dit
maklik via die Internet kan oproep en druk. Ons lewer so 'n dokumentediens by
www.southafricankiwi.co.nz waar ons jou dokumente ontvang en by ons bank
veilig bewaar totdat jy kom en dan koerier ons dit oornag vir jou na jou
adres waar jy tuis is. Die koste vir die diens is $55 vir 12 maande en jy kan
tot 100 x A4 dokumente stuur. Vir 'n ekstra fooi sal ons selfs afdrukke maak van
al jou dokumente en dit in NZ laat sertifiseer as ware afdrukke. Dit spaar jou
ongelooflik baie tyd, want dan kan jy net hier kom en die afdrukke aanheg by jou
CV en jy is gereed.
6. Jy kan nie verwag om NZ Immigrasie te oortuig dat jy 'n bona fide besoeker is
as jy nie eens 'n toerplan of reisplan het nie. Jy weet nie eens waarheen jy
gaan of wat jy gaan doen op jou "vakansie" nie. Jy het nie besprekings by enige
hotel, gastehuis of B&B nie of die familie en vriende by wie jy gaan "kuier" ken
jou skaars of weet eintlik bitter min van jou of jy weet nie eens waar jou
"familie" of "vriende" bly of wat hulle doen nie. Wees verseker hulle gaan al
die "Familie" en "vriende" in NZ bel waarvan jy die besonderhede aan hulle
verskaf en hulle GAAN hulle deeglik uitvra oor jou en wat jy hier kom doen. Jou
"familie" en "vriende" gaan gevra word om 'n beskrywing van jou te gee, jou
geboortedatum, waar jy bly in SA, waar jy werk in SA, hoe lank hulle jou al ken,
hoe jy verwant is aan hulle, ens, ens, ens.
7. BAIE MIN besoekers en toeriste kan werklik vir 3 maande hier kom kuier
of toer, want eerstens moet hulle baie geld hê om dit te doen en tweedens watter
mens met 'n werk kan vir 3 maande verlof kry?? As jy sê jy kom vir 3 maande GAAN
hulle jou vra waar jy in SA werk en hulle GAAN jou werkgewer in SA bel en
hom/haar vra of jy nog daar werk en hoe dit gebeur dat jy vir 3 maande van die
werk kan wegbly en of hulle weet jy hou in NZ vakansie. Die gemiddelde toeris of
besoeker bly nie langer as 3 tot 4 weke nie. Selde langer. Anyway na 3 weke gaan
jou familie of vriende so gatvol vir jou wees, hulle sal wens jy wil teruggaan!
Dis maar net 'n paar slaggate waarin SAners al getrap het en veroorsaak het dat
hulle op die lughawe moes omdraai en met die volgende vlug moes terug vlieg.
Soos meer voorvalle onder my aandag kom sal ek dit op die webblad sit.
|