OMSKAKELING VAN SA BESTUURDERSLISENSIES

 EN PADWAARDIGHEIDSONDERSOEKE VIR VOERTUIE

 

Ons gebruik die metriekestelsel van meters en kilometers en ry aan die linkerkant van die pad hier in NZ en al die SAners wat ek ken het sonder enige probleme die oorskakeling gemaak. 'n Paar vreeslike snaakse toegeerëels het my soms gepootjie, maar ek het hulle ook nou onder die knie (na 'n paar "close calls".). Die eienaardige toegeerëels gaan gelukkig binnekort verander en dieselfde raak as in SA. 'n Paar padtekens verskil van die waaraan ons gewoond is, maar hulle is min en 'n mens leer hulle in 'n japtrap ken.

 

GOEIE NUUS!! Vanaf 1 September 2008 is die nie meer nodig vir SAners om enige toetse te skryf om hulle SA bestuurderslisensies om te skakel na NZ Bestuurderslisensies nie. Dit geld egter net vir "Class 1" (ligte M/voertuig) en "Class 6" (motorfiets) lisensies. Jy moet 'n "full" lisensie hê, met ander woorde jy kan nie jou leerlinglisensie omskakel nie. Enige SAner met geldige permanente SA bestuurderslisensie kan sy/haar lisensie laat omskakel by enige LTSA "licensing agent".

 

Volle bewoording van die wetsverandering - (From 1 September 2008, drivers applying to convert their overseas licence to a New Zealand Class 1 (light four-wheeled vehicle) or Class 6 (motorcycle) licence will not have to pass a theory test if their overseas licence was issued by one of the specified countries whose licence holders are currently exempt from passing a practical driving test in New Zealand. Applicants who are applying to convert heavy vehicle licence classes to New Zealand’s equivalent classes (ie, Classes 2-5) will still have to pass an appropriate theory test in New Zealand.) Bron.

 

NB: Skakel so gou as moontlik na jou aankoms jou bestuurderslisensie om na 'n NZ bestuurderslisensie. Ek sal sê probeer om dit binne die eerste twee maande te doen, want 'n NZ Bestuurderslisensie dien omtrent dieselfde doel as 'n ID-dokument in SA en is jou vernaamste bron van identifikasie hier.

 

As jy jou SA bestuurderslisensie verloor of dit gesteel word sal jy HEEL onder moet begin met 'n NZ leerlinglisensie omdat jy nie bewys sal kan lewer dat jy 'n SA bestuurderslisensie gehad het nie, want dit is feitlik onmoontlik om 'n nuwe SA lisensie te kry terwyl jy in NZ sit - probeer dit! As jy nie jou SA bestuurderslisensie (die kaartjie, NIE die ene wat nog in jou ou ID-boekie is nie) kan toon nie sal NIKS anders werk nie. Hulle aanvaar nie verklarings of afdrukke van jou SA lisensie nie - NET die ware Jakob sal doen. Dis 'n helse lang proses om weer by 'n volle bestuurderslisensie uit te kom (sien hieronder), so spaar jouself baie hartseer, ongerief, boetes, tyd, vloek en skel en kry jou NZ Bestuurderslisensie sodra jy hier aankom. In NZ dien bestuurderslisensies ook as 'n soort van ID-bewys en jy sal orals daarvoor gevra word waar jy aansoek doen vir dienste en bankrekeninge. Glo my as jy jou SA bestuurderslisensie verloor voordat jy jou NZ best.lisensie het sit jy absoluut in K@Kstraat!

 

BESTUURDERSLISENSIESTELSEL IN NZ

 

LEERLINGLISENSIE. Op 15-jarige ouderdom kan jy die 34 vrae "monkey puzzle" toets skryf oor die padverkeersrëels (Road code) en jou leerlinglisensie verkry. Wyl jy 'n leerlinglisensie het moet jy altyd saam met iemand ry wie vir meer as 2 jaar 'n volle bestuurderslisensie ("Full" license) het. Jy moet jou leerlinglisensie vir minstens 6 maande hê voordat jy kan "uitpasseer" om te kwalifiseer vir 'n "Restricted license". Met 'n leerlinglisensie kan jy nie passasiers vervoer nie, behalwe die gelisensieerde persoon wie altyd saam met jou moet ry.

 

DIE "RESTRICTED LICENSE"  magtig jou om alleen te bestuur met sekere beperkings. Jy mag nie passasiers vervoer nie TENSY jy 'n persoon langs jou het wie vir meer as twee jaar 'n volle bestuurderslisensie het. Jy mag net alleen ry tussen die ure 5.00vm (05:00) tot 10.00nm (22:00). Enige tyd tussen 10-uur saans en 5-uur soggens wat jy wil ry moet jy vergesel wees van 'n persoon wie vir meer as 2-jaar 'n volle bestuurderslisensie het. Die "restricted license" moet jy vir minstens 18 maande hê voordat jy vir 'n "full license" kan "uitpasseer". Jy kan die tydperk van 18 maande op 'n "restricted license" met 6 maande verkort as jy 'n "defensive driving couse" by 'n goedgekeurde instrukteur/bestuurskool bywoon. Die kursus duur gewoonlik 4 weke en kos ongeveer NZ $150.

 

Die korste moontlike tyd waarin jy dus 'n volle bestuurderslisensie kan verwerf is 18 maande!

 

 

PADWAARDIGHEIDSONDERSOEKE VIR VOERTUIE - elke 6 maande

 

Alle voertuie ouer as 6 jaar moet elke 6 maande 'n padwaardigheidsertifikaat (WOF - Warrant Of Fitness) kry en dit verseker dat alle voertuie op die pad in 'n goeie werkende orde is (hopelik). Sonder 'n geldige WOF kan jy ook nie jou motorlisensie hernu nie. Voertuie nuwer as 6 jaar hoef net een keer per jaar 'n WOF te kry.

 

Vir volledige besonderhede aangaande NZ bestuurderslisensies en voertuigregistrasies besoek asseblief die webwerf van die NZ Land Transport Safety Authority by www.ltsa.govt.nz/index.html

 

 

 

^^ TERUG NA BO

Kopiereg 2001. Kiwiboer.co.nz. Goedgunstiglik gehuisves deur www.virafrikaans.com