|
Spreekwoordsprokie
Vandag het ek nou 'n appeltjie te skil met
spreekwoorde, want van kleintyd af hoor 'n mens mos nou allerhande storietjies
en spreekwoorde en soorte van AAAA wat vir jou as die waarheid voorgehou word en
almal aanvaar dit sommerso as waar.
Onder ons armgatte is die spreekwoord "geld kan nie geluk koop nie" altyd 'n
"firm favourite", alhoewel dit nou die grootste bol wol is wat jy in jou hakken
lewe nog gehoor het, want wees nou SONDER geld dan sien jou nou hoe ONGELUKKIG
is jy en hoe ongelukkig is jou vrou en kinders EN die ouens vir wie jy geld
skuld! Jou geld kan beslis hulle geluk koop! Almal weet jy kan blou blue
boggerôl doen sonder geld en jy kan vandag nie eens KERK toe gaan sonder geld
nie! Ek laat my deur niemand vertel dat as hy $5 miljoen in die Lotto gewen het
hy nou f....n ongelukkig gaan wees nie! Ek voel sterk daaroor dat ons hierdie
spreekwoord moet verban want dis nou pure hondeskraapsel.
'n Spreekwoord wat my pa baie van gehou het, maar vir my sinneloos was, was die
een van die FLUKSES loop hulle dood en die LUIES dra hulle dood! So What?... op
die ou end het altwee ewe veel gedoen en is altwee ewe vrek en daar is geen
VERSKIL nie ! Geen nut in daai een nie.
Een wat nou vir my nog nooit lekker op die gedagte ,of sal ek eerder sê "oog",
gelê het nie is die ene wat lui "SKOONHEID VERGAAN, MAAR DEUG BLY STAAN" wat
impliseer dat as jy nou eendag vir jou 'n ou vroutjie loop soek jy vir jou 'n
vreeslike lelike en slim ou vroutjie moet loop soek wat omtrent alles onder die
son kan doen want die mooietjies is nou nie so lekker nie en hulle loop raak ook
maar suur na 'n tyd en dan is hulle nou totaal useless as hulle nie mooi kan lyk
nie, MAAR ou maat laat ek nou vir jou sê ek wat eerder vir SKOONHEID op
honeymoon as DEUG, want soos oorle ou TOLLA heeltemal tereg gesê het - ons soek
almal vir ons sulke ou mooi gousblommetjies uit, maar na 'n paar jaar sit almal
van ons met sulke ou KAKTUSSE - so hoekom sal ons dan nie maar met 'n ou
gousblommetjie begin nie?
Om baie spesifieke redes het ek nog altyd uitgesien daarna om die mense te
ontmoet wat in spreekwoorde genoem word , soos byvoorbeeld MOSES en DAWID, want
ek het nog altyd gehunker daarna om vir MOSES te kan teëkom of vir DAWID te kan
kry waar hy die wortels begrawe het. Dit sal dan sal dit sekerlik die naaste
wees waaraan ek ooit aan die hemel sal kom, maar ek het nog nooit vir MOSES
teëgekom nie, ek het my GAT al baie gesien, maar vir MOSES het ek nog nooit
teëgekom nie...... EN die wortels wat DAWID begrawe het weet ek ook nie van nie.
Wortels het ek al by die duisende gesien, maar nie een van hulle het vir my nog
na 'n wortel gelyk wat 'n mens by ou DAWID sou kry nie!
"HY IS "N KLEIN JUKSKEITJIE MET "N GROOT KOP" - word mos nou gesê van 'n man wat
nie groot van postuur is nie, maar baie slim is - daai soort van ouens wat
iewers in 'n LAB rondloop met 'n witjas en dik brille. Het nog altyd 'n probleem
gehad om vir my so 'n ou voor te stel wat soos 'n klein jukskeitjie met 'n groot
kop lyk. Hy moet mos nou amper lyk soos 'n hamerkophaai, of ten minste soos 'n
kar se wielpomp of nog beter soos 'n KNOPKIERIE!
SAREL wat moet sak dat sy pa die bok kan skiet is seker die domste donner wat
hulle nog in 'n spreekwoord gebruik het, want hoe soort van mens staan dan voor
sy pa as hy met 'n gelaaide geweer aanlê om 'n bok te skiet? Miskien moes hy die
dom moer maar raak geskiet het dan het ons hom ten minste uit die genepoel
gekry.
'n Man wat nou die wysheid van SALOMO het is nou veronderstel om 'n man te wees
wat sy brein op "steroids" het, maar WYSHEID van SALOMO? Stront man! Salomo was
'n bloomin fool. Watter man by sy gesonde verstand sal vir hom willens en wetens
soveel AAAAAAA op die hals haal deur HONDERDE vrouens gelyk te wil hê? As hy
moeilik van daai soort wou hê kom hy mos maar net 'n ALFA gekoop het of een vrou
en 'n skelmpie gehad het!! SALOMO se WYSHEID! Nee ek dink hulle moet eerder sê
SALOMO se ORIGHEID, want ek weet nie of daar al ooit 'n ou na hom was wat so 'n
"sucker" vir "punishment" was nie!!
Dan kom ons nog ook by JOB se GEDULD uit - Elke keer as ek van JOB hoor dink ek
nie aan GEDULD nie - Ek dink JOB was die luiste bôgger wat daar nog was.......
teen 'n boom gelê terwyl die wurms die boom opvreet - Het hy dan nog nooit van
Karbaspray of DOUBLE BEND X gehoor nie? - EN dan onder die boom Lê! Lyk my die
man was op die DOLE. Ek dink nie JOB was geduldig nie. Ek dink hy het gom
gesnuif of was altyd so effens GEROOK gewees. Miskien het hy diet Coke gedrink -
wie weet?
Een van die oulikste spreekwoorde - "HY HET DE KLOK HOOR LUI, MAAR HY WEET NIE
WAAR DIE KLEPEL HANG NIE" - is eintlik langer as sy betekenis, want in kort kort
beteken dit maar net jy het soos jou GAT geluister, 'n skinderstorie gehoor,
maar in jou haas om dit oor te vertel die hele draad verloor. So eintlik het jy
maar net uit die BUS geval.
Nouja nou het ek spreekwoorde vir altyd vir julle opgeneuk en sal dit hopelik in
die toekoms nie meer so vaal wees nie.
Groetnis.
Luister na hierdie storie en
my ander liegstories op
Afspraak Afrikaans
|