|
Honnepis en voetskimmel

Was nou annerdag by 'n "goeie kennis" van my - nee nie "vriend" nie, net "goeie
kennis" - en het dit my weer opgeval hoe verwronge mense se werklikheid kan
word.
Hoe dit nou ookal sy ek wil nou eers 'n draai loop maak in die onlangse verlede
om my storie te verduidelik. BAIE GOU na ons aankoms hier het ons gesien die
Kiwi's het 'n gewoonte om hulle skoene uit te trek by die voordeur voordat hulle
'n huis binnegaan. Gou-gou het ons besluit dat dit 'n BAIE goeie idee is, om
verskeie praktiese redes. Eerstens is Melkvallei 'n baie nat land en in die
winter het jy feitlik altyd nat skoene met modder (en soms nog baie ander
"ekstras") aan en synde hier nou nie 'n "Siena" of "Griet" is wat die mat agter
jou gat kan skoon maak nie moet jy dit SELF doen en is matskoonmaak met modder
of hondestr...t op jou matte regtig nie iets om na uit te sien nie.
Ons het vinnig vat gekry aan die gewoonte en sonder om te dink trek ons deesdae
skoene uit by ALLE voordeure waar ons aanland. Dis deesdae al vir my meer as net
'n praktiese reëling om matte skoon te hou, maar al meer 'n teken van
bedagsaamheid en respek. Het GEEN probleme daarmee nie.
ONGELUKKIG is dit nog 'n helse probleem vir sommige SA "vriende", familie en
"goeie kenisse" en kan hulle soms 'n vreeslike "issue" van die eenvoudige sakie
maak. Ek het met die tyd agter die rede probeer kom waarom sommige SAners so 'n
vreeslike vrees het vir skoene uittrek en selfs toelaat dat mense hulle huise
met modder en hondestr..nt betrap. Dis nie omdat hulle bang is jy sien hulle
vuil voete of stukkende sokkies nie, maar dis 'n "kulturele-weerstand" soos ek
dit noem. Om een of ander rede sien SAners dit as 'n vernedering om hulle skoene
uit te trek en as ongasvry of selfs ongeskik om van mense te verwag om hulle
skoene uit te trek voordat hulle 'n huis binnegaan.
Nou hierdie "kulturele-weerstand" het al vir heelwat wrywing gesorg tussen my en
andere. Ek maak nie 'n uitsondering nie en trek voor die voet my skoene uit
voordat ek 'n huis binnegaan en dit is al so 'n gewoonte dat ek nie meer daaraan
dink nie. Steeds word ek by sommige SAners se huise nie hierdie eenvoudige keuse
gegun nie en word daar soms hewig daarop aangedring dat ek my skoene moet
aanhou, maar dis mos my blerrie keuse of ek my skoene wil uittrek of nie, dan
nie? Gewoonlik trek ek dan net my skoene uit en gaan in en dis die einde van die
saak! Van my "vriende" en "goeie kenisse" voel so sterk oor skoene uittrek dat
hulle al selfs vir lang tye nie by my gekom het nie, net omdat hulle hulle
skoene by my huis moet uittrek - anyway, good riddance en up yours too!
Tot verlede week was ek nou nog nie beledig oor my keuse nie en het almal darem
nou so min of meer begin aanvaar dat ek my skoene uittrek voor ek by 'n huis
ingaan. MAAR verlede week het skoene uittrek 'n nuwe dimensie vir my aangeneem
en was ek vir die eerste keer in 5 jaar beledig toe ek my skoene by die "goeie
kennisse" se huis uittrek. Eers dring hulle heftig daarop aan dat ek my skoene
aan hou, maar ek steur my nie daaraan nie en gaan voort om my skoene uit te trek
en toe die "dame" van die huis sien ek gaat nou wragtag my skoene uittrek gooi
sy my met hierdie ene: "hou aan jou skoene, moet nie jou voetskimmel
in my huis kom aflaai nie!".
Ek was stom geslaan en na ek oor my aanvanklike skok, verbasing en rooi ore
gekom het kon ek net sę: "verskoon my ek het nie voetskimmel nie, was my voete
twee keer op 'n dag en het blerrie skoon sokkies aan!". Ongelukkig was ek
genoodsaak om daar te bly, anders het ek maar net daar omgedraai en gery. My
moer was daarna sommer lekker asynerig, maar later het ons darem weer die
geselskap aan die gang gekry en so min of meer weer "gekuier".
Dit was egter nie die geselskap wat my gedagtes besig gehou het nie, maar die
mense se brakke wat die hele huis vol is en hulle orals tuis maak. Skaars was
ons in die sitkamer of een van die "hondekinders" pis op die mat en dadelik
skiet so 'n wit vlaggie in my kop op "VOETSKIMMEL"! Nie lank daarna nie lek 'n
ander "hondekind" vir "mamma" geesdriftig deur die gesig en weer skiet die wit
vlaggie vir my op. Dit was op die punt van my tong om vir "mamma" te vra of sy
al gesien het waar haar "hondekind" orals op sy lyf kan lek met daai symste tong waarmee
hy "mamma" so geesdriftig liefkoos, maar ek word net stil-stil naar en hou my
bek.
Agterna kon ek nie help om te wonder of voetskimmel gevaarliker en minder
aanvaarbaar is as honnepis, hondestront, hondekots, miete, vlooie, luise, wurms
en ander nare goeters wat saam met honde kan kom nie. Ek twyfel, maar ek dink
dis 'n veld wat braak lę (if you catch my drift!) vir
wetenskaplikenavorsing!
Te oordeel aan die prominensie wat aan voetskimmel gegee word sal ek sę dat
voetskimmel werklik 'n ernstige gevaar inhou en sal ek as voorkomingsmaatreël
aanbeveel dat skoene orals en te alle tye aangehou moet word!
Nou wonder ek nog steeds oor diegene sonder "hondekinders" in die huis wat ook
'n vrees vir voetskimmel het. Ek neem aan dat hulle in hulle vrees vir
voetskimmel nie sal omgee as ek my eie hondestront en "ekstras" in hulle matte
intrap nie? Solank ek net nie my skoene uittrek nie!!
Nou
hoor ek al klaar die antie daar uit die kombuis skree "my honne is nie vuil
nie!". Antie........ ek wil nou nie jou bubble bars nie, maar volgende keer as
jou hondekind op die mat sit ,kyk tog waarmee hou hy sy potlood skerp!!
NS:
Enige dier wat op 'n mat kan sit en sy gat en al sy "tools" kan lek sal NOOIT
die naam "kind" by my kry nie!!
Viva la voetskimmel!!
Groetnis.
|