|
|
|
|
|
O' "DIE TAAL"!
Skaars was die verkiesings in ’94 verby of almal wat ‘n ietsie te sê het oor die Afrikaanse taal kraam ‘n aap met ‘n goue gat oor “DIE TAAL” (Afrikaans) wat dan nou onderdruk word en orals uit die openbare oog (op advertensies, kennisgewingborde, ens.) verdwyn. Almal (ek ook) het iets te sê gehad oor “ONS TAAL” wat nou “tot niet” sal gaan. Later het ek besef dat ‘n taal nie tot niet kan gaan solank mense dit praat en instand hou nie en dis net hier waar die dinges die fan slaan, want ,myns insiens, is ONSSELF op die oomblik verantwoordelik vir die ondergang van “DIE TAAL”.
Ons het gou met ons aankoms in NZ besef dat ons daadwerklik iets sal moet doen om ons taal (Afrikaans) suiwer te hou (nie oor ons snobisties of puriste is nie, maar net uit liefde vir Afrikaans en ons erfenis) en is baie gesteld daarop om ,sover moontlik, die Taal suiwer te praat en het ‘n harde tyd met ons kinders om nie Engelse woorde tussenin te gebruik nie, maar om dit te omseil gebruik hulle soms die ergste Anglisismes wat jy nog ooit gehoor het, maar ons help maar reg, byt vas en hoop vir die beste. So hou ons maar die blinkkant bo en die Taal aan die gang. Ek kan werklik verstaan as ‘n immigrant in ‘n Engelse land ‘n probleem het om sy taal suiwer te hou, want jy is totaal gedompel in Engels. Baie Afrikaners met jong kinders het heeltemal die stryd opgegee en praat net Engels met die kinders, wat eintlik jammer is, want die kind verloor in effek die helfte van sy/haar baie ryk erfenis. Selfs van die groter kinders is so opgeneem in Engels dat hulle nie meer Afrikaans praat nie (wat vir my eintlik ‘n bietjie dik vir ‘n daalder is, maar dit is hulle keuse), selfs nie eens met hulle ouers nie en die ouers aanvaar dit so.
Afrikaans het GEEN kans om as ‘n volwaardige taal in New Zealand te oorleef nie en ek aanvaar dit so. My mening is dat daar binne die volgende twee geslagte geen oordrag van die Afrikaanse taal meer gaan wees nie. Die Afrikaanse kultuur gaan waarskynlik ‘n hele paar goed aan die Kiwi-kultuur oordra wat lank na “die Taal” se ondergang nog gaan voortleef – soos boerewors! Al hierdie goed aanvaar ek as onvermydelik deel van immigrasie en ons moet daarmee saamleef en het nie eintlik veel van ‘n keuse daarin nie – die realiteite dikteer!
Om te sien hoe jou taal sterf in ‘n vreemde land is nou maar net deel van die lewe en ons weet dis onafwendbaar, maar om te sien hoe “Die Taal” gesinsmoord pleeg in sy eie huis (SA) is nogal ‘n hartseer storie. Ek was die afgelope paar maande telke male geskok om die uiters swak gehalte van Afrikaans te hoor wat nuwe immigrante gebruik. Lyk my die gehalte van Afrikaans wat tans in SA gepraat word is swakker as wat ons na 6 jaar in NZ praat. Lyk my ons bewaar “Die Taal” taal hier in die vreemde beter as wat hy in sy eie huis bewaar word??
Engelse woorde, anglisismes en vloekwoorde word vryelik en onbeskaamd gebruik. Niks word gespaar om Afrikaans na die grootste sleng te verlaag wat ek in ‘n lang tyd gehoor het nie. Nou kyk, ek het ‘n vuil bek op my en voel baie keer skaam daaroor en WEET dis verkeerd, maar lyk my dis nou “normale” taal in SA en as ek nog daar gebly het ,het ek nie meer lelik gepraat nie, maar net “gewone” Afrikaans.
Afrikaanse musiek het 'n herlewing beleef wat ongelooflik is en ek is BAIE bly
daaroor en daar is meer nuwe Afrikaanse sangers as wat in ons dorpie se
telefoonboek sal inpas. Hier by ons het, lyk my, ook almal wat dit nie in die
"Idols" TV-program gemaak het nie in Afrikaans begin sing en almal skryf hulle
eie musiek en brand CD's vir 'n vale en deurgaans is hulle op een tema geskoei
en as jy daarna luister klink die lirieke soos 'n filosofieboek in 15 lyne met
enkel kitaar begeleiding op 'n toonsetting van Valium of Prozac!
Wat gaan aan? Ons het sulke groot bekke gehad oor “DIE TAAL” wat gaan ondergaan, maar nou vermoor ons hom sommer maar self! Was ons maar net weer groot bek en windgat?
Groetnis.
Louwrens. |
|
|