|
Chilliwors

Een van die eerste goed wat jy mis as jy immigreer
is so 'n lekker ou stukkie boerewors by die braai, want braai, braai ons, al is
dit ook nou in die sneeu! Braai is mos in ons gene ingeteel soos rugby en ek
dink braai is seker nommer twee of drie - Die Brannewyn-en bier geen is nommer
een!
So het 'n paar van ons saamgespan en ernstig begin worsmaak so oor naweke en dit
was nie ongewoon vir ons om 60 of 70 kg boerewors op 'n Saterdag te maak nie.
Dit was egter BAIE duur boerewors, want ons moes die speserye van Freddy Hirsch
uit SA invoer en dit moes in grootmaat geskied en het die beursies erg geknou.
Voordeel van die speserye was dat die wors altyd dieselfde gesmaak het en ons
die kwaliteit kon waarborg, maar daar was altyd gebrom oor die prys.
Ons het begin met 'n groot ou vleismeul wat Corrie Joubert uit SA saamgebring
het en dit het BAIE draai gekos om 70kg wors deur sy keel te wurg en een
Saterdag het alles tot 'n punt gekom toe ons my vrou se vinger saam met die
maalvleis deur die wurm wou werk en 'n paar dokters 'n ruk lank besig gehou het
om haar vingerpunt weer met die res van die vinger "op te lign"!
Daar en dan het ons besluit dis die keerpunt en dat ons 'n veiliger stopper
nodig het wat ook meer vleis op 'n slag kan stop en Corrie loop koop 'n
worsstopper wat lyk soos 'n reuse inspuiting op steroids! Dis ook TOE dat ons
besluit die wors moet goedkoper gemaak kan word en ons gaan ophou om die
speserye in te voer en ons eie mengsels aanmaak met plaaslike speserye en ook 'n
reeks verskillende soorte boereworse begin maak.
Ons nooi toe alles wat leef en beef uit om vir ons boereworsresepte te stuur en
heel spoedig het ons genoeg resepte om 'n telefoonboek 'n
minderwaardigheidskompleks te gee en een Saterdagmiddag trek ons by my huis saam
met genoeg vleis en speserye om "meals on wheels" vir 'n maand lank te "run".
Een man was ook aangestel om notas te maak van resepte wat werk en opmerkings
wat gemaak was oor die respte. Ewe manhaftig het die man ook sy knipbord nader
getrek en ek kon sien hy maak twee kolomme - een vir "spesery mengsels" en een
vir "opmerkings".
Elke ou het sy gunstelingresep saamgebring en heel gou begin ons mengsels toets
en braai en proe en elke stukkie wors word aangejaag met 'n slukkie uit 'n
botteljie of glas en ook sommer spoedig blyk dit dat ons 'n paar wen resepte
het, maar die aand lê nog voor en daar is nog baie resepte wat deurgewerk moet
word en ook genoeg voggies om dit mee af te sluk en ons te bemoedig en ons stoei
voort.
'n Paar faktore het egter geleidelik begin saamwerk om dinge mooi te beneuk en
ek kan nie onthou op watter stadium dinge begin skeef trek het nie, maar ek kan
net onthou dat ek agterna gedink het dat enige ou wat sê "DRINK en BESTUUR" is
gevaarlik het nog nie gehoor van "DRINK en WORSMAAK" nie.
Om te begin het ons 'n skaal gehad wat gelyk gramme en ONSE (oz) op twee kante
van 'n skaal gehad het en oorlat ons nou SO 'n skaal gehad het het ons ook nie
daaraan gedink om die respte wat ONSE en PONDE gebruik het na gramme oor te
skakel nie en iewers na die vierde of vyfde dop het daar 'n grys gebied tussen
ONSE en GRAMME ontstaan en het die manne later die skaal geheel-en-al gewantrou
en na die minder betroubare ,maar BAIE meer gerieflike mates van handvol,
knippie, knypie, skud, half-bottel, glasvol, ens. oorgeslaan!
'n Verdere faktor wat dinge heel in sy moer gestuur het was die hoeveelheid van
verskillende resepte en die feit dat sommige resepte nog half in ENGELS ook was
en was 'n rowwe vertaling van ALLSPICE gou na GEMENGDE SPESERYE verander, wat
natuurlik 'n heel ander ding is EN anders smaak.
Ek kan onthou dat ek veels te veel stukke wors geproe het wat te min sout en te
veel asyn gehad het, maar iemand het later gesê dit was nie die asyn wat die
wors so suur gemaak het nie, maar die stywe stote Hawkes Bay Chardonnay wat ek
by die mix gesit het. Anyway baie van die verskillende resepte se smake het by
my verby gegaan so vinnig as wat ek dit kon afsluk, MAAR op 'n stadium het ek
begin om my gunsteling kruie by te voeg naamlik knoffel en "chilli" oftewel
rooirissies.
Nou as 'n man te veel knoffel in 'n wors inwerk dan vrot jy so die vlieë vlie so
in 'n meter sirkel van jou kop af soos die ringe van Saturnus, maar hulle kom
sit nie op jou nie en 'n anner ding van te veel knoffel is dat as dit in jou
maag land dan wil dit weer bo uitkom, maar dit verlos jou nie van die reuk nie
en as jy te veel rissies insit wil dit weer net direk onder uit sodra dit in jou
maag aanland, maar as jy te gelyk te veel knoffel EN te veel rissies insit sit
jy met 'n helse PROBLEEM.
Die eerste stuk knoffel wors wat ek nie kon baasraak nie, gooi ek in my hond se
bak en hy ruik net daaraan, nies en trek sy neus op, maar raak nie daaraan nie.
Die buurman se hongergathond vreet dit egter gulsig op en ek vervies my vir sy
oorlamsgeit en dink ek sal hom 'n les moet leer en gooi 'n groot stuk van die
EXTRA HOT Chilli-wors in die bak en toe ek sien my hond ruik net daaraan en
knor, toe weet ek die mix is reg! Weer gryp die buurman se hond die wors en raak
hom baas met 'n paar happe, maar dit lyk nie of hy enige lastige newe effekte
ervaar nie en ek gooi hom nog 'n paar stukke van die ROOI wors en hy werk hulle
ook deur die tande en wag vir my om die leë bak te "refill" en ek dink so in my
enigheid : "blerrie useless wors vir honne, dit brand sewe soorte AAAAA uit my
uit, maar daar is nie eens 'n traan in die hond se oog nie!".
EN so het ons nou aangegaan met die wors resepte tot almal tot oor hulle ore
geëet was aan boerewors van ENIGE beskrywing onder die son. Ek kan onthou dat
voor ek op die "beanbag" by die TV aan die slaap geraak het dat ek NOOIT ooit
weer knoffelwors, kerriewors of chilliwors gaan eet nie, want ek het gevoel soos
'n karbattery wat te lank op 'n "boost charge" gestaan het.
Vanweë die oormaat knoffel en ander dinge in die respte het my vrou my
vriendelik versoek om tog maar die nag op die "beanbag" deur te bring indien ek
enige huweliksprobleme wil voorkom, maar vroeg die volgende oggend het sy my
weer jammer gekry (SOOS GEWOONLIK) en my met 'n lekker BOEREWORS BREKFIS wakker
gemaak ,maar toe ek my oë oopmaak was boerewors die LAAAASTE ding wat ek wou
sien en die badkamer was nog NOOIT so vêr van die sitkamer soos daardie dag nie.
Die badkamer bring egter meer lyding as verlossing en dit voel iemand het 'n
petrolbom mooi tussen my kringspiere ingegooi en ek vlug na buite om te kyk of
die vars lug nie wil help nie, maar NIKS maak nie en ek hol so twee, drie draaie
om die huis soos 'n donkie wat terpentyn gesmeer was en ek dink daar was mos
NOOIT soveel rissies en kerrie in daai wors nie, maar my hol verskil heftig met
my en hou my bene onwillekeurig aan die gang.
So na die tweede rondte om die huis sien ek die buurman se hond wat my wors so
gulsig gevreet is is besig met 'n "chariot-race" op hulle gras en hy sleep sy
gat so vinnig oor die nat gras dat dit lyk hy loop al sy lewe lank net op so
voorbene met sy hol oppie grond. Wyl ek met my eie brand spook begin ek
onophoudelik vir die hond lag en my vrou kom kyk wat aangaan en sien die hond
waarvoor ek so lag en sy sê - "JY LYK OOK SELF NIE SO "FLASH" MET DIE SPUITENDE
TUINSLANG WAT AGTER BY JOU BROEK INGEDRUK IS NIE!!"
So het ek toe maar my brekfis geniet met die spreier onder die draad tuistoel
opgestel om 'n strategiese plek voortdurend van 'n oorverhitting te red.
Later die dag kry ek die knipbord in die hande waarop die "rekordhouer" die
respte en aanmerkings moes aanteken en ek sien die man het nogal sy werk heel
goed gedoen - in die begin altans - by respte met bestanddele soos koljander,
basil, tiemie en neut en al daardie tradisionele bestanddele sien ek in die in
die opmerkingskolom opmerkings soos "GEURIG", "AROMATIES", "PIKANT" en "SAPPIG",
maar op bladsy vier se onderkant sien ek sy skrif is ook nie meer dieselfde en
begin speserymengsels met KNOFFEL, KERRIE en RISSIES sterk prominensie geniet en
is die opmerkings nie meer so vleiend nie en begin ek woorde sien soos
"BULLSHIT" en "AAKLIG" - by die voorlaaste vier sien ek "KAK" twee keer en
"BLIKSEM!!" een keer, maar by die heel laaste een sien ek "FOKKIT!!"
in hoofletters en dubbel onderstreep - dis die ene wat jou op 'n tuinstoel laat
sit met 'n spreier onder!
Groetnis.
Luister na hierdie storie en
my ander liegstories op
Afspraak Afrikaans
|