|
|
|
|
|
Met liefde aan die mense wat my so vloek oor ek ander SAners wil help
Dis nou al 5 jaar wat ek hierdie webwerf op my eie koste aan die gang hou om my landgenote te help wie wil immigreer na NZ ,omdat hulle nie meer kans sien om in SA te bly onder toenemende misdaad en werkloosheid nie.
Ek kry gemiddeld 200 e-posse per maand van mense uit SA wie vra na werk in NZ en aan my die hartseerste verhale skryf van hoogs gekwalifiseerde mense wie a.g.v Regstellende aksie en BEE sonder werk sit en krepeer, laat staan nog van hoe hulle lewens deur misdaad geraak of vernietig word. BAIE van hierdie mense het kwalifikasies wat hoog in aanvraag is in NZ en in plaas van om hierdie mense net jammer te kry PROBEER ek iets doen aan hulle lot.
In samewerking met 'n paar Personeelkonsultante in Auckland en Wellington versamel ek die poste wat elke maand beskikbaar is vir SAners en versprei dit EEN keer per maand in 'n nuusbrief wat bekend staan as die "Jobs Bulletin". Die "Jobs Bulletin" gaan gemiddeld aan 1200 persone in SA elke maand en ek kry die e-posadresse van persone wat inskryf vanaf my webwerf. Soms skryf familie en vriende weer hulle familie en vriende in en dan kry hulle die "Jobs Bulletin".
Nie almal wil die "Jobs Bulletin" hê nie, wat ek kan verstaan, en sommige mense sien dit as "SPAM" en is baie geirriteerd as hulle dit kry, wat ek ook vertstaan. Ek het nie altyd beheer wat mense doen nie en as hulle hulle familie en vriende inskryf vir die "Jobs Bulletin" sonder hulle medewete weet ek dit nie, DAAROM is daar voorsiening gemaak dat jy dadelik kan "unsubscribe" en jy sal NIE weer die "Jobs Bulletin" kry nie. Ek gryp nie die e-posadresse uit die lug uit nie, dit word aan my gestuur!! SHIT HAPPENS! CARRY A SHOVEL!!
Ek verkoop nie Viagra, dwelms of "pyramid schemes" nie, ek stuur net 'n lys met werk uit wat moontlik vir mense 'n uitkoms en nuwe toekoms kan bied. EN dis verniet! Ek het GEEN probleem met mense wie ongevraagd die "Jobs Bulletin" kry en hulle moere strip omdat hulle dit as net nog "SPAM" sien nie, GEEN PROBLEEM - ek word ook erg die moer in oor sulke goed - vloek my gerus! Ek kan dit vat - ek voel vir jou.
Wat my egter grensloos irriteer is die mense wat op Planeet "Lalaland" lewe en na hulle die "Jobs Bulletin" gekry het op hulle "Moral High Horses" spring en vir my die vieslikste goed skryf. Meeste van die goed kan ek nie herhaal nie, maar die algemene trant is min of meer soiets:
"Hou op om ons opgeleide mense te STEEL en na die buiteland te lok".
"Dis as gevolg van SKUIM soos jy (dis nou ekke) dat ons land geen vaardighede en visie meer het nie en alles besig is om te verval." (Van 'n vakbond.)
"Jou vark, jy steel ons opgeleide mense waarvoor ons duur betaal het met ons belastingeld, ek wil obviously nooit weer van jou hoor nie!".
"Julle lok mense met vals beloftes na die buiteland en dan moet hulle daar krepeer en bossies skoffel en vrugte pak om aan die lewe te bly en moet hulle weer op hulle eie koste terug kom in SA." (Nog een van 'n vakbond.)
"Julle is soos aasvoëls wat om karkasse draai!".
Gewoonlik as ek so 'n e-pos kry wonder ek dadelik op watter planeet lewe die mense dan?? Lewe hulle in SA?? Weet hulle wat om hulle aangaan?? Wil hulle my blameer vir die situasie in SA of is hulle noual so desperaat dat hulle na enige skaduwee sal slaan?
Ek kan verstaan hoekom die spesifieke Vakbond so aangaan oor die mense die land verlaat, want vir hulle gaan dit maar doodeenvoudig oor hulle eie belang, want hulle verloor lede teen so 'n tempo dat hulle binekort geen inkomste of relevansie gaan hê nie. As die betrokke Vakbond enigiets werd was sou daar nie so baie van hulle lede hulle werk verloor het a.g.v regstellende aksie nie!! Trek eerder julle eie sokkies op!! Blameer jou eie Regering vir die situasie in SA en vir die tekort aan visie - moenie vir my blameer nie! Ek het nie die situasie in SA geskep nie, ek reageer net positief daarop - meer as wat van die vakbond gesê kan word.
Die arme Antie wat haar skirt beskyt het oor ons die ambagsmanne "steel" wat met hulle swaarverdiende belastinggeld opgelei was het ek regtig simpatie voor, want ek is seker sy e-pos ook elke dag te vergeefs die plaaslike Munispaliteit wat OPENLIK haar swaarverdiende belastinggeld steel en ek is dood seker sy het ook al gekla oor die Polisie wat VERONDERSTEL is om haar met haar swaarverdiende belastinggeld veilig te hou (en hulle gatte aan haar afvee) en daar is geen twyfel dat sy ook al oor die soustrein gekla het. As die regering haar belastinggeld gebruik om 'n veilig lewe (en 'n toekoms) vir almal te skep sal hulle nie uit die land vlug en sonder werk sit nie. Lewe moet 'n hel wees vir haar. WEES STERK ANTIE!
Wat almal OOK gerieflikheidshalwe vergeet is dat die mense wie ons werf GROOTMENSE is wat vir hulle self kan besluit waar hulle toekoms lê en die vryheid het om met hulle lewens te maak soos hulle goed dink en as hulle 'n beter lewe vir hulle self en hulle kinders wil vind - gee hulle die kans asseblief!
Die persone wat so aangaan oor die opgeleide SAners gewerf word om in die buiteland te gaan werk en vestig bied NIE aan om die mense wat hulle werke as gevolg van die politiek in SA verloor het te help met werk of kos of huisvesting nie. Hulle kritiseer net en bied nie vir die mense 'n oplossing nie. Voordat hulle nie 'n beter oplossing het as wat ons het nie, moet hulle eerder stil bly.
Laastens, mense wat bereid is om in die buiteland groente te pak en bossies te skoffel MOET wragtag baie desperaat wees om uit die land te kom en spreek boekdele van hoe groot hulle toekoms in SA is! Hulle was BESLIS nie deur my gewerf nie, want ons sorg dat die mense wie ons werf, en hulle hier kom vestig, 'n werk en 'n werksvisa het. Oor die kwessie van ons wat soos aasvoëls op die opgeleide mense toesak (shame) kan ek net sê, aasvoëls vreet net aan goed wat reeds dood is en MAAK hulle nie dood nie - loop soek die oorsaak van hulle dood elders, dit lê nie by ons nie.
Heel laaste dink almal ek doen dit vir die geld. Ja, ek kry 'n klein kommissie van die personeelkonsultante, maar dit delg net my uitgawes en is beslis nie die nonsens werd wat ek moet opvreet nie, daarby moet ek vir elke immigrant wat hom hier suksesvol vestig 6 (ses) maande wag voordat ek my kommissie kry!
Ek is nog steeds van mening dat die enigste verskil tussen 'n IMMIGRANT en 'n VLUGTELING uit SA net TYD IS!! Wat gaan jy wees??
NS: Die "Jobs Bulletin" en ons Werksoekdiens is einde Januarie 2008 gestaak.
Baie liefde - Kwaai Baba! |
|
|