"Tammy"

 

1994!! Dit was mos die jaar van die "groot vlug" gewees en dié ouens wat nie kans gesien het om die water te toets na die "GROOT" verkiesing nie het toe opgepak en gegaan.

Meeste van my vriende wat toe gegaan het, het gesê 'n vliegkaartjie na AUCKLAND was goedkoper as die moerse lys van "groceries" wat jy in jou tuin moes begrawe het! Ek het uitgewerk die lys wat ek gekry het van blikkieskos, kerse, parrafien, ens. sou omtrent so drie maande se drankgeld uit my huisbegroting vat en toe val ek maar vir die drank en los die lys! My vrou het darem 'n pak kerse gekoop en die het my twee biere gekos.

Toe ek nou my 1994-vriende in 2000 hierheen volg het my vriende nou so 'n 6 jaar voorsprong gehad en kon ek lekker by hulle kom kersopsteek - nee nie van die VERKIESINGKERSE nie!

Een van my ongetroude vriende ontmoet ek toe in HASTINGS 'n paar jaar later en vra hom hoe dit gebeur het dat hy daar aangeland en hy sê dit is ook van wou KERS OPSTEEEEK dat hy uit AUCKLAND moes vlug.

Hy vertel my dat hy kort na sy aankoms hier vriende gemaak het met 'n paar BAIE stout AFRIKANER jongmans wat net voor hom hier aangekom het en 'n bietjie BAIE meer wêreldwys was as hy. In elk geval, so loop hulle een aand in Queenstraat in Auckland en die manne vra hom of hy al by 'n "Escourt Agency" was en hy sê hulle gaan hom nie met daai een vang nie, want hy het een keer 'n FORD kar gehad en dié het hom soveel kak gegee dat hy nie eens na 'n "escourt" wil kyk nie!

Hy sê, maar die manne gee nie moed op nie en gooi die volgende versoeking en vra wat van so 'n lekker "Sensual Massage" by die "Massage Parlour". Hy sê: "OU MAAT - ek het op 'n klein dorpie in die VRYSTAAT groot geword, in Bloemfontein studeer en weer na die dorpie teruggekeer. Ons het in die skadu van die NG-kerk gebly en van seks en "massage parlours" het jy net in die odd SCOPE gelees wat jou engelse neef een keer elke skrikkeljaar per ongeluk daar gelos het. Dis nog daai SCOPES waar die TOLLENAARS met so 'n sterretjie toegemaak was wat jy kon afkrap!" Nou ja nou weet jy.

Hy sê, die nuuskierigheid en sonde oorval hom egter en dat hy toe besluit hy WIL dit sien, want hy het nog ALTYD gewonder wat daar aangaan. So is hulle toe af na die "massage parlour" en daar gekom maak 'n dame die deur oop met 'n outfit wat by BATMAN sou pas. Sy het so 'n swart kantgordyn rondom haar gedrapeer en in die agterground is 'n radio aan en toe hulle binnekant kom sien hulle die radio en die swart kantgordyn is omtrent die meeste wat die dame aan het!

So is hulle sitgemaak en die manne saam met hom bestel dan ook sommer drankies en betaal sy fooi vir die "massage"- so asof hulle al VOORHEEN daar was! Hy sê hy besluit toe om maar niks te drink nie en sy lot nugter te aanvaar. Hy sê hy sien daar is sulke partisietjies met sulke dun papierdeurtjies en kort-kort kom daar 'n dame in 'n kamerjas uit om iemand te kom haal en toe dit sy beurt is volg hy die dame so 'n skaap ter slagting.

Hy sê eers binne die hokkie sien hy die tafel met die gat in en die dame begin hom sommer summier uittrek, maar toe sy by sy groen EDGARS onderbroek kom met die gat in toe trek die skadu van die NG-kerk weer oor hom en hy skop vas en beland so met darem sy onderbroek aan op die tafel. Hy sê na sy hom daar onder hande gehad het en hom die massering van sy lewe gegee het op plekke waar hy nie eens met die waslap kan bykom nie en op plekke waar die son nog maar MIN geskyn het, het hy gewonder hoekom die tafel nie ook 'n gat in die MIDDEL het nie!! Hy sê die EDGARS onderbroek het ook nie veel van 'n beskerming gebied nie, maar darem - 'n man het mos ook jou trots!

Hy sê hy hoor toe so na 'n kort rukkie dat die masseerdery vreeslike harde werk moet wees, want die dame haal al hoe harder asem en maak sulke fyn kreungeluidjies en kort kort trek sy van die min klere uit wat sy aangehad totdat sy ook net daar staan MET DRIE STERRETJIES aan soos die vrouens in die SCOPE!! En net toe hy dink sy gaan nou haar eie sterretjies krap toe vra sy in so 'n hees stem vir hom of hy nie 'n ietsie "EKSTRA" wil hê nie en toe sê hy: " 'n KOPPIE KOFFIE SAL NOU MOER LEKKER WEES!"

Sy vriende het blykbaar die hele plek ontwrig soos hulle gelag het en hulle was gou gevra om maar te loop en vir die res van die aand wou almal net vir hom koffie bestel en lag!

Nietemin, hy sê hy lag toe maar saam en vat dit as 'n lewensles en begin net lekker in die stadslewe in "settle" toe ontmoet hy 'n fantastiese meisie, TAMMY, by 'n partytjie. Hy sê dit was nou die soort van meisie wat op Universiteit nie eens langs hom wou sit nie, laat staan nog van uitgaan. Die enigste nadeel was dat dit 'n Kiwimeisie was en hy in Engels moes vry, maar hy sê: " jy weet mos vry het sy eie taal en daai meisie KON vry!"

Hy sê, maar wat hom ook baie aangestaan het was dat die meisie nog op haar plek was ook en nie baie gevroetel en gevattery toegelaat het nie en dat dit hom die idee gegee het sy is 'n meisie met höe standaarde.


Die enigste ding was dat hy nie veel van haar geweet het nie, behalwe dat sy kan VRY soos min. Soos sy geluk dit wil hê ontmoet hy so na 'n week of wat se ernstige gevryery 'n kiwivriend van hom wie ook op die partytjie was waar hy die meisie ontmoet het en hy vra hom toe of hy ook die meisie ken en die vriend sê: "Ja-nee ek ken vir Tammy BAIE goed - van nog VOOOORDAT sy die operasie gehad het, toe sy nog TIM was!"

Hy sê my dit was toe dat hy besluit het AUCKLAND is nie goed vir hom nie en dat hy toe maar HASTINGS toe getrek het, want dis nog 'n ware dorp.

Groetnis.

 

Luister na hierdie storie en

my ander liegstories op

Afspraak Afrikaans