|
|
|
|
|
TV is 'n bliksem
'n TV is soos 'n bok, en 'n bok is 'n BLIKSEM!! Dit is teen hierdie tyd algemene kennis dat die TV min of meer alle bedrywighede in 'n huis rëel (meer as jy kinders het!). Alles word rondom TV-programme gerëel en selfs belangrike geleenthede moet hulle tye versigtig kies om nie te bots met 'n gewilde TV-program nie. Die druk is darem minder as jy 'n video-opnemer het, maar dan neem jy weer net 'n vrag programme op wat jy nooit gaan kyk nie of jou nog minder tyd gaan gee vir ander dinge.
Ongelukkig gaan dit al slegter en in sommige huise is daar soveel afstandbeheerders ("remotes") dat, as almal op die koffietafel lê, dit eerder lyk of daar 'n domino-game gespeel word. Dan is daar nog die DVD, kabel-TV, DSTV en 'n horde ander.
Nou laat ek jou vooraf waarsku: as jy ooit by 'n huis gaan kuier waar dit lyk of daar 'n domino-game op die koffietafel aan die gang is, sê jou sê en gaan huistoe, want jou kuier meng in met die mense se TV-tyd!! Lyk aljimmers vir my of ons met die koms van die TV al ons sosiale vaardighede verloor het en beslis ons vermöe om te kan gesels en ordentlik te kuier.
Rede hoekom ek hierdie stuk skryf is oorlat my m----r so effens gestrip is deur 'n pêl van my wat 'n TV-zombie is.
Ek weet noual deur dure ondervinding dat as jy dit so ongelukkig tref om by sy huis aan te kom terwyl die TV aan is jy net met sy vrou gaan gesels. Hy is 'n dierbare mens as hy sy Bob Martins gereeld drink en nie 'n dêm TV naby hom het nie. Hy kan baie lekker gesels as hy na "normaal" teruggekeer het en dit is asof hy 'n heel ander persoonlikheid aanneem sodra die TV aangeskakel word. 'n Mal ou s'n!
Afstandbeheerders ("remotes") van elke moontlike soort lê so binne armlengte van hom af, en nou sluit ons nie die twee in wat reeds in sy hande is nie! Hy is ongelooflik vaardigheid met die goed en dit lyk kompleet op hy 'n PlayStation-game speel as hy eers doenig raak met die goeters. Hy hoef nie sy oë van die skerm af te vat om 'n knoppie te druk nie, hy kan dit al in sy slaap doen. Hy is 'n baie aktiewe kanaal-seiler (?) (Channel surfer) en kan maklik na 'n handvol kanale gelyk kyk sonder om die draad van een van die stories te verloor. Ongelukkig het daardie vermöe ook sy woordeskat verminder na twee woorde en 'n geluid naamlik "kyk daar" en "ssssjjjjt". Dit is nou vir die mense om hom, want vir die ouens op die TV (wat hy nog nie agtergekom het, hom nie kan hoor nie!) het hy 'n kleurvolle woordeskat en BAIE raad!!
Hy skroom nie om jou stil te maak en die TV harder te sit as jou gesprek met sy TV-genot inmeng nie. As hy so met intense meelewing sit en TV kyk dan lyk hy baie dae vir my soos 'n hardlywige hond wat besig is om 'n rol doringdraad uit te druk!! Shame.
Dat die man reeds alle psigologiese struikelblokke oorkom het om (vrywillig) 'n TV-slaaf te word ly geen twyfel nie en dit is net die fisiese struikelblokke wat 'n ongelooflike pyn in sy gat is, want hy moet nog steeds opstaan om te gaan fluit en iets te kry om te eet en drink. Ek het nou aangebied om die man ook daarmee te help en voorgestel dat Ina vir hom aarvoeding en 'n kateter gaan insit sodra hy van die werk afkom!! |
|
|