Die "Jones"-virus

Suid-Afrikaners is oor die algemeen ‘n taai spulletjie en laat hulle nie sommer onderkry nie, maar ek merk op dat hulle redelik vatbaar is vir die “JONES”-virus en dat sommige SAners dit in ‘n baie ernstige graad kry en moeilik daarvan herstel. Ek weet van ‘n paar wat nooit daarvan sal herstel nie en vir die res van hulle lewens met die gevolge van die siekte gaan sit.

Die JONES-virus waarvan ek praat staan ook in die algemene omgang bekend as “Keeping up with the JONESES!”. Om ‘n aanval van die JONES-virus te ervaar of om permanent daaraan te ly is sekerlik op sigself nie werklik ‘n probleem nie, SOLANK jy dit kan BEKOSTIG. Ons almal ly ook sekerlik in ‘n mindere of meerdere mate daaraan (ek sluit myself in) en min mense is werklik daarteen imuun. Dit is net vir my kostelik om te sien hoe SAners hier aanland en na ‘n tydjie allerhande goeters begin koop wat hulle nie kan bekostig nie om mense te beïndruk waarvan hulle nie eens hou nie! In 99% van die gevalle is dit NIE om die Kiwi’s te beïndruk nie, maar ander SAners of hulle familie en vriende. As jy dit kan bekostig dan sê ek “GO FOR IT!” want “IF YOU GOT IT, FLAUNT IT!” ,as dit jou geaardheid is. As jy dit egter nie kan bekostig nie is daar ook ‘n goeie spreekwoord wat die situasie beskryf nl:“ The easiest way to stay poor is to pretend to be rich”.

Ek weet sekere lesers sal nou sê dis nou maar net naafgatgeit (afguns of suur druiwe) aan my kant omdat ek kontant MOET lewe, twee OU karre het en my meubels uit die Loot (Trade & Exchange) en Warehouse kom en ek sal ook die eerste ou wees wat met jou saamstem. Net voor jy egter jou gat opruk in selfvoldaanheid wil ek jou net met hierdie gedagte los – Jy is waarskynlik ook een van die ouens wat voel: ” Whenever a friend succeeds, a little something in me dies (Gore Vidal)”?

WINSTON CHURCHILL: We make a living by what we get, but we make a life by what we give.