|
|
|
|
|
Mense wat nie "gewone" mense ken nie.
Ons het 'n vriend wat nie "gewone" mense ken nie, behalwe natuurlik vir ons, maar in sy oë is ons nou seker ook nie "gewone" mense nie, seker "common" mense.
Ek maak nou al 'n punt daarvan, as ek daar besoek loop aflê, om te probeer voorspel watter vername mense weer vandag op die menu gaan wees.
Sy ding werk so: - hy voel om een of ander rede nie belangrik genoeg nie en voel verplig om so terloops in gesprekke te laat val watter vername mense hy ken of sy kinders ken en hoe belangrik die mense is. Dit voeg dan nou genoeg waarde in sy oë aan hom toe om sy bestaan te regverdig. Dit irriteer egter die tandepasta uit my uit!!
Hy het nie 'n gewone "garden variety" tandarts soos ons kommen ouens nie, nee sy tandarts of dokter is altyd Prof. Piet of Prof. Klaas wat voorheen verbonde was aan een of ander Universiteit (as ek so na sy bek kyk kan hy dalk reg wees, want dit is net 'n professor wat daai gemors sal kan uitsort). Die siektes en skete wat hy het is ook altyd uniek en het die dokter "vreeslik laat kopkrap".
As jy vir hom sê sy braaivleis smaak lekker sal hy sê "dis darem net Woolworths wat sulke kwaliteit het", maar jy kry hom nooit in Woolwoths nie en ek het hom al meer as een keer by Pick 'n Pay se "specials" gekry.
Hy koop goedkoop Whisky en gooi dit dan in duurder Whisky se bottels om sy aansien te verhoog, maar almal ken al sy trick en dis nog net hy wat dink hy is ougat.
Sy kar is altyd 'n "Limited Edition" en sy kar se bande is altyd "ingevoer" (seker van PE af!).
Sy (en sy vrou) se juweliersware is altyd "ontwerpers stukke" en handgemaak, maar ek kan nie die verskil sien nie.
Hy koop nie polisse by 'n gewone agint, soos ons kommen mense nie, nee die man wat met sy goed werk is altyd 'n "Makelaar"!
Katte en honde in sy jaart het ook spesiale gene en is gewoonlik "geneties gemanipuleer" om dit presies te kry soos hy dit wou hê. Net jammer hulle kon hom nie geneties gemanipuleer het nie, dan sou hy nie die mutasie gewees het wat hy vandag is nie!
Hy het nie een mens in sy lewe wat nie op een of ander manier 'n konneksie met bekende of belangrike mense het nie of wie nie die belangrikste werk op aarde het nie. Die mense wat hy ken het ook gewoonlik sulke unieke kwalifikasies dat die universiteit net een so 'n graad toegeken het!!
So kan ek aangaan en jou ook grensloos irriteer ,maar ek is doodseker jy weet waarvan ek praat. Ken jy ook so 'n mens??
Groetnis.
|
|
|