|
|
|
|
|
Armgat maar Windgat
Miskien het jy ook al hierdie ervaring gehad. Ek moet bieg dat ek al beide aan die ontvangkant en uitdeelkant van hierdie storie was. Ek is baie skuldig, maar dit pla my, daarom skryf ek daaroor.
In almal van ons se lewens is daar "Vaaljanne" en "Blinkpiete". Vaaljan is jou ou vriend wat maar altyd daar is wanneer jy 'n ietsie gedoen wil hê en 'n paar ekstra hande kort. Hy is ook die ou wat maar net altyd gewillig is en nooit nee kan sê as jy sy gereedskap, raad, bystand, tyd en noem maar op, nodig het nie. Met ander woorde ou Vaaljan is jou ou maat deur dik en dun.
Aan die anderkant kry ons vir ou Blinkpiet. Nou ou Blinkpiet is 'n anner bliksem. Hy het of geld of hy is 'n vername man of het een of ander eienskap waaraan jy baie waarde heg. Hy beteken eintlik niks vir jou nie, maar die blote feit dat jy hom ken en met hom kan assosieer verleen een of ander waarde aan jou. As jy mooi gaan sit en dink is ou Blinkpiet so bruikbaar vir jou soos jou eks-vrou, maar jy sal deur die hel stap vir hom.
Kom ou Vaaljan by jou dan sit julle sommer in die kombuis uit bekers en drink of plat op julle gatte voor die agterdeur. Jy voel gemaklik by ou Vaaljan en jy hoef niks aan hom te bewys nie en selfs die stiltes tussen julle is gemaklik.
Kom ou Blinkpiet by jou dan is dit 'n hele konsternasie. Gewoonlik is ou Blinkpiet so vernaam dat hy laat weet hy kom, of hy kom net op uitnodiging by jou. Hy is nie 'n man wat sommer net oor jou agterdeur kom loer nie. Hy wil "ontvang" wees. Nou as ou Blinkpiet sy voorneme bekend gemaak het om jou te besoek dan gaan alles skielik in "overdrive" en as daar genoeg tyd is dan wil jou vrou nog 'n nuwe rok ook hê en jy wonder hoe jy jou dik gat in die baadjie gaan kry wat jy twee jaar gelede vir die doop van Vaaljan se kjênd gekoop het. Met Blinkpiet se aankoms kom vind hy jou plek soos 'n paradegrond voor inspeksie en selfs die toesluit-sitkamer met ouma se bal-en-klou stel is oopgesluit en afgestof vir sy aankoms. Ou Vaaljan se beker is by die bediende s'n, agter in die spenskas, en die bêre-koppies met die goue randjies staan op 'n blink skinkbord en gehekelde lappies. Orals in die huis dryf lekkerruik kersies in visbakke vol water en jou huis lyk kompleet soos iets uit "The Arabian Nights".
Jou hare is gesny en jy het toe maar 'n nuwe baadjie loop koop om die "vername" man in te ontvang. Jou vrou het die tuisnywerheid leeg gekoop en dit lyk eerder of julle vir 'n troue reggemaak het as vir Blinkpiet se besoek. Die kinders word na vriende toe gestuur of aangesê om te loop fliek en 'n paar skoolfoto's verteenwoordig hulle in die toesluit-sitkamer. Foto's kan nie krummels mors of koffie op jou belangrike gaste stort nie.
Nou dit is seker ook maar goed en wel, want dit is mos maar menslik om so te wees en almal van ons kry van tyd tot tyd sulke gatkruip-aanvalle. Alles sou ook goed afgeloop het en die toesluit-sitkamer sou vir 'n verdere paar maande sy geheim kon bewaar het en Blinkpiet sou dik gevreet en selfvoldaan van jou weggegaan het as die blerrie Vaaljan nie met sy vuil overall daar opgedaag het nie!!
Vaaljan se geroep by die agterdeur word met irritasie geignoreer en jy wens hy wil net verdwyn, want vandag sal hy beslis nie by die geselskap inpas nie. 364 Dae van die jaar is hy orraait, maar vandag is hy NIE orraait nie. Ongelukkig verdwyn ou Vaaljan nie en stap om die huis om te kyk waar sy ou pêl is. Hy sien die blink mouterkar voor die deur, maar kry nog steeds nie die boodskap nie en terwyl hy die voordeurklokkie lui roep hy hard na jou.
Jou gewete en die skewe kyke van die egpaar Blinkpiet spoor jou aan om vir Vaaljan die deur te loop oopmaak. Vaaljan knip eers sy oë 'n paar keer toe hy jou sien, want hy kan nie onthou wanneer en waar hy jou laas met 'n baadjie aan gesien het nie en vra dan verleë of julle oppad is na 'n troue toe. Getrou aan Vaaljan se natuur stap hy dan ook sommer binne, want hy voel baie tuis by jou, altans vir 364 dae van die jaar, maar HY weet nie van daardie een dag wat hy nie welkom is nie!!
Binne gaan staan Vaalpiet verstom voor die toesluit-sitkamer met die fancy meubels waarvan net die dominee, ouderling en (natuurlik) Blinkpiet van weet. Hy skud sy kop soos 'n koei met 'n bosluis in die oor en sê "ek het nog altyd gedink dit is 'n stoorkamer"!
Dit het Vaaljan 'n tydjie gevat om oor sy vernedering te kom, maar deesdae sit hy weer saam met sy pêl voor die agterdeur en koffie drink en is alles vergete, want sien ware vriende dink nie jy het 'n permanente job daarvan gemaak as jy 'n fool van jouself gemaak het nie!!
Hoe behandel jy die Vaaljanne in jou lewe en waar lê ons lojaliteite werklik??
Groetnis. |
|
|