| |
 |
|
OP HIERDIE BLAD:
|
 |
 |
|
|
 |
|
SUID-AFRIKANERS IN NZ
Ek vind dit baie interessant dat besoekers aan my webwerf net
soveel belangstel in die Suid-Afrikaners in NZ as in
NZ self. 'n Vraag wat gereeld opduik is: "Hoe is
die Suid-Afrikaners daar in NZ en wat maak hulle"?.
Om hierdie eenvoudige ou vragie te beantwoord kan jou maklik in 'n
mynveld laat instap en oor die laaste paar jaar het ek al hierdie blad se inhoud
verskeie kere verander omdat ek daarvan beskuldig word dat ek onregverdig,
krities, sinies, bevooroordeeld, en nog ‘n hele spul ander goeters ook teenoor
SAners in NZ is.
Ek word ook daarvan beskuldig dat ek growwe ongefundeerde
veralgemenings maak oor my seining van SAners en ek pleit skuldig! ‘n Mens se
gevoelens oor ander mense hang meeste van die tyd maar af van hoe hulle jou laat
VOEL en hoe hulle jou BEHANDEL en is ‘n uiters subjektiewe ding wat moeilik deur
‘n stel feite verklaar kan word, ek WEET egter wanneer iemand my goed of sleg
laat voel en dis vir my genoeg!
Al hierdie beskuldigings mag wel so wees, maar ek gee maar net MY
sienig weer en die ervarings wat EK met ander SAners (veral Afrikaners) in NZ
gehad het. Ander SAners in NZ se ervaring van ons landgenote mag anders wees
(en SAL ook anders wees).
Hieronder probeer ek MY EIE (niemand anders s’n nie) ervarings
oor SAners stapsgewys weergee:
1. Om te begin wil ek eers sê dat SAners ‘n GEWELDIGE bydrae
maak op alle vlakke van die samelewing in NZ en oor die algemeen as baie goeie,
hardwerkende en eerlike werknemers gesien word. Die verskil wat SAners in NZ
maak kan jy orals al duidelik begin sien, want hulle is ORALS verteenwoordig.
Oor die algemeen presteer SAners uitstekend op professionele en akademiese
gebied en is hulle ambisieus, dinamies, vooruitstrewend en kompeterend (iets wat
die Kiwi’s nie altyd verstaan nie).
2. SAners is geneig om in die groter sentra te verstig (om
verskeie goeie redes, waarvan ekonomiese redes waarskynlik die grootste is).
Hulle vestig graag op plekke soos Auckland (vernaamste bestemming), Hamilton en
omstreke, Tauranga, Rotorua, New Plymouth, Palmerston North, Wellington,
Napier/Hastings en omstreke, Wellington, Christchurch (gewildste Suid-Eiland
bestemming) en Dunedin. Jy sal SAners vandag feitlik op elke dorpie en gebied in
NZ kry, maar die bostaande is maar net die vernaamste plekke waar hulle graag
bly.
Groot getalle SAners werk ook op honderde (indien nie duisende)
melkplase in die Waikato, Taranaki en Canterbury streke en hulle vaar uitstekend
en verower elke jaar dosyne trofees vir produksie en maak hulle merk.
Toenemend begin SAners ook vestig in die akkerbou en wynbou gebiede
van NZ en kan jy reeds groot getalle SAners vind in die “Bay of Plenty”, “Hawkes
Bay” en Neslon/Marlborough streke. Die afgelope jaar of twee het die
Nelson/Blenheim omgewing baie gewild begin raak onder SAners.
3. Hoewel NZ grootliks 'n klaslose gemeenskap is handhaaf
SAners steeds hulle "klasse" en sal hoofsaaklik net met SAners assosieer wie
hulle beskou as op die dieselfde sosiale en inkomste "vlak" as hulle. Daar is
enkele uitsonderings, maar hulle is skaars.
Wees ook maar voorbereid daarop dat daar orals waar daar baie
SAners bymekaar is die gewone ou "KLIEKS" vorm wat om mekaar saamdrom soos
brommers om 'n dr...l en waarin jy nie maklik toegelaat sal word nie! Hierdie
stelling het al so baie lesers hulle speelgoed uit die kot laat gooi, maar hoe
meer hulle daaroor kla hoe meer kry ek ‘n gevoel dis ‘n geval van “Methinks the
lady doth protest too much"!
4. SAners het nog altyd daarvan gehou om mekaar te beïndruk
met hulle besittings en hulle belangrikheid/geleerdheid en dit is asof dit die
afgelope paar jaar net erger geword het. Na die “housing boom” in SA het SAners
hulle huise/besighede/plase teen ongelooflike pryse verkoop en met GROOT bedrae
geld hier in NZ aangekom en materialisme onder SAners is baie erg en dit is
amper asof dit die maatstaf geword het waaraan hulle alles en almal meet.
SAners se beheptheid met karre en huise en die waarde wat hulle
daaraan heg grens soms aan die absurde. Dis asof ‘n kar (veral 4x4’s en duur
sportmotors) vir hulle
al hulle verlore aansien moet herwin en nuwe respek moet verdien met die eerste
oogopslag. Vir baie SAners is hulle met niks tevrede wat nie minstens ‘n
spaarwiel op die agterdeur het nie. Sportmotors en luukse motors staan nie vêr
agter die 4x4’s nie en as jy nie minstens ‘n paar “quad bikes” en ‘n Jetski/boot
(of twee) in die garage het nie het jy dit nog nie gemaak nie!!
5. Omdat ek seker noual reeds te veel gesê het wil ek volstaan met die
volgende en ek dink dit sê BAIE: Dit maak nie saak waar in die wêreld jy
Suid-Afrikaners bymekaar gooi nie, maar as jy vier Suid-Afrikaners op 'n plek
het gaan hulle binne 'n maand vyf verskillende kerke en ses verskillende
politieke partye gestig het!!
|
 |
| |
 |
|
VRYWILLIGE DIENS
Een van
die vinnigste maniere om by die gemeenskap in te skakel en vriende te maak is om
by een van die dosyne vrywilliger organisasies aan te sluit soos die brandweer,
lewensredders, Sallies (Salvation Army), meals on wheels, ens. Ek het by die
plaaslike Citizens Advice Bureau ingeskakel en gee gratis rekenaaropleiding aan
bejaardes en help hulle met hulle rekenaarprobleme. Ek geniet dit baie en het op
die manier al dosyne interessante mense ontmoet en vriende gemaak.
|
 |
| |
 |
|
HUWELIKKE & IMMIGRASIE
Ek wil
sommer met die deur in die huis val deur te sê , as jy getroud is, werk aan jou
huwelik VOORDAT jy aan jou immigrasie begin werk. Huweliksmaats is tot die
uiterste op mekaar aangewese vir ondersteuning en hulp die eerste paar maande na
immigrasie en swaarkry is noodwendig deel van die pakket. Immigrasie kan
'n GROOT toets vir 'n huwelik wees en ongelukkig deurstaan vele huwelikke nie
die toets nie en verbrokkel die huwelik hier in die vreemde met baie hartseer
gevolge.
'n Huwelik wat hier in die vreemde verbrokkel se gevolge word 'n
duisend keer meer gevoel as wat die geval in SA tussen jou eie mense sou wees.
Daardeur wil ek nie sê dat die verbrokkeling van 'n huwelik in SA nie ook
traumaties is nie, nooit nie, die gevolge word hier net met soveel meer faktore
vermenigvuldig. Jy sit hier in die vreemde met geen, of 'n baie klein,
ondersteuningstelsel om jou by te staan. Die finansiële implikasies kan so
geweldig wees dat een of beide van die partye na SA moet terugkeer om te
oorleef. Jy kan self dink wat die gevolge op kinders kan wees. So kyk asseblief
na jou huwelik en maak die band baie heg voordat jy immigreer!
|
 |
| |
 |
|
TAAL EN KULTUUR
AFRIKAANS
is nog springlewendig in New Zealand en hoewel ons 'n paar aanpassings vir
plaaslike dinge, goeters en plekname moes maak is alles klopdisselboom.
Daar
bestaan heelwat Afrikaanse organisasies, klubs, kerke, ens. wat 'n reuse bydrae maak tot die voortbestaan van
Afrikaans en die kultuur van alle SAners in NZ EN wat die pyn van die vreemde en
aanpsssing darem so 'n bietjie verlig.
Daar is omtrent in elke
streek of groot dorp of stad in NZ 'n Afrikaanse klub, organisasie of kerk wat
poog om die SAners bymekaar te bring. Die grootste Afrikaanse organisasie in NZ
is die
Afrikaanse Klub van Nieu-Seeland in Auckland. Weekliks stuur die klub ook 'n nuusbrief, genaamd "Brokkies"
uit na ongeveer 1600 persone en die "Brokkies" word hier by ons afgewag met
dieselfde opgewondenheid as die Huisgenoot! Skryf gerus in op die "Brokkies" (jy
hoef nie in NZ te bly nie) deur die Afrikaanse klub te kontak by
Die.Afrikaanse.Klub@clear.net.nz . As jy in NZ bly en jy ontvang nie
die "Brokkies" en die nuusbrief "Uit-maar-Tuis" nie, dan is jy in
die duisternis oor wat die SAners aanvang! Ander klubs vir SAners se aktiwiteite
kan jy gaan opsoek op die volgende webwerwe:
www.sanztrust.org.nz (Goeie
webwerf met BAIE inligting.) Gaan kyk ook op my
SKAKELS blad vir baie meer skakels.
Verskeie Afrikaanse kerke bestaan ook en in die "Brokkies" sien jy weekliks
verskeie Afrikaanse kerke hulle dienste en dienstye aankondig. Die grootste
Afrikaanse kerk in NZ is die Afrikaanse
Christenkerk van Nieu-Seeland
met ongeveer 1200 lidmate in 4 Gemeentes (2 Gemeentes in Auckland, 'n gemeente
in Hamilton (met 'n plaaswyk) en die nuutste gemeente in Rotorua). Die Afrikaanse kerke speel ook 'n groot rol in NZ om SAners saam
te bind en vir hulle 'n geestelike en kulturele tuiste te bied.
Webblaaie waar jy meer kan lees oor die Afrikaanse kerke in NZ is:
www.afrchristenkerk.co.nz (Afrikaanse
Christen Kerk van Nieu-Seeland)
http://www.ackhamilton.co.nz/
(Hamilton Gemeente van die ACK van NS)
http://www.ackwellington.co.nz/ (Wellington Gemeente van die ACK van
NS)
www.ackchristchurch.co.nz
(Christchurch Gemeente van die ACK van
NS)
Immigrante
wie inskakel by die kerke en Afrikaanse organisasies vind ook dat hulle landing
hier in die vreemde soveel sagter is en dat die verlange darem so 'n bietjie
minder is, want hulle het dadelik 'n ondersteuningsnetwerk en ook soveel meer
geleenthede om geholpe te raak.
Baie
SAners se verskoning hoekom hulle nie by die kerke en organisasies betrokke is
nie is dat ons Afrikaners maklik "klieks" vorm wat mense vervreem. Dit is so, jy
kry dit in SA en jy kry dit ook hier, jy sal nooit wegkom daarvan nie, maar Klieks is by verre in die minderheid en die
oorgrote meerderheid van mense is maar net doodgewone SAners wat wil help en
lekker saam kuier! |
 |
| |
 |
|
INTERESSANTE REALITEITE VAN IMMIGRASIE
Dit is
BAIE keer die vrou se kwalifikasies wat SAners toegang tot NZ gee
(verpleegsters, onderwyseresse, dokters, ens) en dit is so algemeen dat die
manne dan die huishouding oorneem dat dit maar net aanvaar word as nog 'n feit
van immigrasie. Soms vat dit maande voordat die man werk kan kry of heropleiding
gekry het om 'n nuwe werk/beroep in NZ te begin. In meeste gevalle vind die
omruiling van rolle redelik pynloos plaas en spring die manne gou in om die
tradisionele "huisvrou" rol te vervul, want die realiteite dikteer. In 'n
minderheid van gevalle is die omruil van die rolle BAIE pynlik en sal ek nou
maar nie daarop ingaan nie.
Dit is
werklik nie snaaks om die manne te sien inkopies doen, kinders skooltoe te vat,
koskook, skoonmaak en was nie. Soms ruil ons selfs resepte uit!!
ALMAL
moet hier uitspring en help, want daar is nie 'n huishulp of tuinwerker nie en
dit verg soms fyn beplanning en 'n hele her-organisasie van die gesin en bedrywighede.
Werk word gewoonlik versprei deur 'n rooster in die huis wat bepaal wie wat sal
doen en wanneer. Gelukkig het 99% van huise 'n skottelgoedwasser en is
skottelgoed was NIE die grootste probleem nie. Tuinwerk, grassny, was, stryk en
stofsuig is die grootste probleme in ons huis ,want daar is ALTYD een wat kla
oor die werk wat hy/sy gekry het!! Selfs na 10 jaar stoei ons nog soms, maar aan
die einde kom alles darem gedaan as elkeen sy deeltjie doen. Soos ek altyd vir
my kinders sê: "Jy hoef nie daarvan te hou om dit te kan doen nie - doen dit
net!" |
 |
| |
 |
|
SA PRODUKTE IN NZ - OOK BOEREWORS, BILTONG &
DRöEWORS!!
In die meeste groter
plekke hou die groter supermarkte nou die BASIESE SA
produkte aan soos mieliepap, mayonaise, Pro Nuto,
vyekonfyt, Aromat ,ens. en is dit nie 'n probleem om
dit in die hande te kry nie. Boerewors kry jy in
omtrent elke groot supermark - dit smaak nie aldag
soos ons boerewors nie, maar darem......! In plekke
soos Auckland en Hamilton is slaghuise (van
ex-SAners) wat vir jou REGTE boerewors, biltong en
dröewors met die koerier sal stuur waarookal jy mag
wees.
By die
GEELBLADSYE
van die
Afrikaanse Klub
sal jy ook by "KOS" 'n swetterjoel plekke kry
waarvandaan jy SA produkte en wyn kan bestel of gaan
koop. Hier is ook 'n paar besighede wat SA produkte
aanhou:
-
Die Suid Afrikaanse Winkels in Browns Bay, Howick
en Orewa. In Auckland is die winkels
by 170 Wellington Street
(hoek Elliot), Howick,
tel 533 7085 of by 74 Clyde Road,
Browns Bay,
tel 479 3647. In OREWA is die winkel by
Shop 5,
Moana Court, 350 Hibiscus Highway, Orewa,
tel 09 421 0554.
Webblad:www.saproducts.co.nz
-
In HAMILTON by
Elite Meats
van Wykie Etsebeth sal jy 'n magdom SA produkte
kry en puik diens in Afrikaans. Besoek asseblief
die webwerf van
Elite Meats
vir meer besonderhede en kontaknommers - daar is
ook 'n kaart van waar om die slaghuis te vind.
|
 |
| |
 |
|
MAAK 'N GOED
INGELIGTE BESLUIT
Die rooi
mat van immigrasie na NZ eindig by die lughawe as jy
daar afklim en daarvandaan is jy op jouself
aangewese. Immigrante kan ook nie reken op die steun
van hulle werkgewers nie, so sorg dat jy so vêr
moontlik op jou eie stoom kan reg kom.
As jy kom
moet jy kom om permanent te bly en dit nie net sien
as 'n proeflopie om te kyk of jy dit gaan maak nie.
Doen jou Huiswerk goed! Kom hou vakansie hier en kry
vir jou werk of ten minste ‘n werksaanbod -
daarsonder hoef jy nie eens aansoek te doen nie.
Die meeste
van ons kan net EEN keer bekostig om te immigreer en
as jy ‘n fout gemaak het sit jy hier op hierdie twee
eilandjies en gaan jy vir minstens vyf jaar "suffer"
voordat jy kan verskuif. Kom met ‘n oop gemoed en
moenie vooropgestelde idees hê van hoe dit gaan wees
nie. Geniet die ervaring en geniet die lewe van dag
tot dag.
NZ is ‘n
fantastiese plek, maar as jy ‘n mens is met baie
ambisies en groot drome kan jy baie beter doen op
ander plekke en is NZ beslis nie vir jou nie! Die NZ
komediant, Benjamin Crellin, het dit knap raak gevat
toe hy gesê het: "Everyone in New Zealand wants to
move up, but there is nowhere to move up to!!"
Ek wil graag hierdie webwerf gebruik om
Suid-Afrikaners wat immigrasie na NZ oorweeg 'n
oorsig te gee van die werklikheid en heersende
toestande in NZ. Te veel mense wat hier voet aan wal
sit kom na die "vakansiebrosjure" New Zealand toe en
is na 'n paar maande baie teleurgesteld en
sielsongelukkig.
Ons is baie gelukkig hier, NZ Burgers, goed gevestig
en sal nie weer na SA terugkeer nie.
Win ASSEBLIEF so veel inligting as moontlik in
voordat jy die groot besluit neem om te immigreer,
want dit is die enigste manier waaarop jy die regte
besluit gaan neem. Immigrasie issie vir sissies nie,
maar verkeerde besluite het al helde laat val!!
Die Leuse
van NZ immigrasie is : "New Zealand the right
choice", maar as jy nie voorbereid was nie gaan jy
baie lank oor jou "wrong choice" huil.
|
 |
| |
 |
|
WAT IS DIE KIWI's SE SIENING VAN SUID-AFRIKANERS?
Daar is
deesdae baie min Kiwi's wie nie dink SAners is
arrogant en aggressief nie. Dit voel ook vir my asof
die houding van SAners die afgelope 2 jaar of so
ernstig agteruit begin gaan het, want voorheen het
jy so hier en daar gehoor van 'n SAner wie sy naam
gat gemaak het, maar deesdae kom dit vry algemeen
voor en soms voel jy om in die grond weg te sak as
jy hoor hoe sommige SAners hulle gedra.
Dit is erg
ontstellend om te verneem dat ons gashere ons in
sulke negatiewe terme sien. Ek weet nie waar dinge
verkeerd geloop het nie, maar dit lyk vir my asof 'n
mens deesdae min goed in SA regkry as jy nie
konfronterend en aggresief is met 'n woordeskat wat
daarby pas nie en daardie houding bring SOMMIGE
immigrante met hulle saam as hulle immigreer.
In NZ help
dit niks om luidkeels aan die vloek en skel te gaan
en 'n "tantrum" te gooi as jy nie jou sin kry nie en
dinge gebeur nie vinniger omdat jy aggressief is
nie! Al wat jy regkry is om dinge vir die ander
immigrante BAIE moeiliker te maak en SAners in die
algemeen 'n swak naam te gee.
In sommige
gevalle wil dit lyk asof geld party SAners laat dink
dat die hele wêreld voor hulle moet neerbuig! In die meeste gevalle van
onmanierlike
optrede lyk dit my is dit pleinweg net 'n gebrek aan
opvoeding en goeie maniere.
SAners
begin deesdae hier werk en wil sommer dadelik die
baas wees of soos een kiwi dit die anderdag stel -
"The Wise-ass or Clever Dick at work is
usually a South-African!". Dis vreeslik om dit te
moet hoor en dryf my tot drank.
'n
Kiwi-vriend van my wie by 'n bekende
personeelagentskap werk wat vir baie SAners werk
vind in NZ het 'n week of wat gelede vir my gesê dat
sommige SAners (veral sommige AFRIKANERS) voorheen
ietwat van 'n "attitude" probleem gehad het, maar
dat dit nou vereger het en dat SAners nou meer van
'n "ALTITUDE" probleem het as 'n "ATTITUDE"
probleem. Die "ALTITUDE" probleem het ek die
afgelope jaar of wat gereeld en deeglik aan my bas
ervaar en dit lyk of sommige SAners dink die rooi
tapyte moet uitgerol word en Engelekore moet begin
sing sodra hulle hier aan wal stap! Dis soms so
pateties om te sien hoe hoog hulle hul self ag dat
jy kan naar word daarvan.
NB:
Ter verdediging van ons mense moet ek ook sê
dat dit wat die Kiwi's BAIE keer by SAners sien as
Arrogansie en Aggressie is eintlik meer AMBISIE en
KOMPETISIE ,want ons kom uit 'n Wêreld waar jy net
eenvoudig die BESTE moet wees en die beste moet
lewer om te oorleef en dit bestaan nie in die Kiwi's
se wêreld nie.
|
 |
|
|
 |
|
UITERS
NEGATIEWE GESINDHEID
Ek het
die afgelope tyd op baie forums van SA koerante en tydskrifte verskriklike
negatiewe konflikte gesien tussen SA ex-pats en mense wie nog steeds in SA bly,
daarby maak ons dit ook ons werk om die mense tuis in SA te demoraliseer.
HOEKOM? In my boek is die ouens wie in SA agtergebly het die ware helde, want
hulle moet elke dag al die negatiewe dinge trotseer om 'n lewe te kan voer en
dan nog OOK met die str...t opgeskeep sit wat die ex-pats hulle wil voer.
NOU WAT DOEN ONS?
Ons versamel al wat negatiewe berig is oor SA en druk dit in die kele af van ons
familie en vriende wie in SA agtergebly het. Dit is ook heel maklik, want ons
het teen belaglike lae koste vrye en onbeperkte toegang tot die Internet en ons
lees elke moontlike koerant en stukkie inligting oor SA. Ons weet baie keer van
nuus waarvan baie mense in SA nie eens weet nie en omdat ons 10-11 ure in tyd
voor SA is lees ons baie kere nuus op die Internet nog voordat die eerste
oggendkoerante in SA uit is. Moenie ‘n fout maak nie, SA immigrante in NZ is TEN
VOLLE op hoogte met wat in SA aangaan. Dit is verseker! Op enige dag sal vele
negatiewe berigte oor SA sommer vanself per e-mail deur die elektroniese
“grapevine” op jou rekenaar beland – jy hoef nie eens daarvoor te gaan soek nie.
Ons versamel gewoonlik hierdie sappige stukkies negatiewe nuus oor SA in een
groot lêer en laat dit los op ons familie en vriende in SA soos ‘n reuse
elektroniese trosbom en..................... voel dan baie trots op onsself! Ons
wend ons selfs deesdae ook skaamteloos tot
Internetforums en het dan niks anders om te doen as
om gif te strooi oor SA nie, pleks ons help eerder
en praat die mense moed in!
Wat ookal ons verskeie motiewe is om dit te doen en wat ons ookal MAG dink ons
daardeur bereik, bereik ons meestal net die volgende:
Verlaag die GATVOL-indeks van SAners vir
ex-pats.
Verhoog die angstigheidsvlakke van ons
vriende en familie in SA.
Bevestig die vermoede by hulle dat ons
windgat en verwaand is en net “cheap” wil brag oor ons nou uit die vuur
is.
Bou ‘n intense wrewel teen expats op in
die mense wat in SA “agtergebly” het en daagliks die geveg moet veg teen die
verskriklike goed waarmee ons hulle bombardeer.
Dis net geen wonder dat sekere familie en vriende nie meer vir ons wil skryf of
bel nie, want al wat ons geword het is “doomsday prophets”!. As ons maar soveel
geld vir ons mense stuur soos stront e-mails of forum-diarree sal ons dalk baie meer aan hulle
situasie kan doen en ek dink tot tyd en wyl ons beter kan doen moet ons maar
eerder ons bekke hou!
Dis net so goed ons bel die jode in ‘n konsentrasiekamp in Duitsland en vertel
hulle hoe benard hulle situasie is! DINK ONS HULLE WÉÉT DIT NIE??!!
|
 |
| |
 |
|
BOEREWORSRESEP vir BOEREWORS
"PATTIES"
Nou sal
julle ook seker wonder wat 'n boereworsresep hier
soek, maar dis nou uitsluitlik vir gevestigde
immigrante wat op klein plekkies bly waar hulle nie
so maklik boerewors kan koop soos ons nie en ook nie
'n vleismeul en worsderms het nie. Aan die begin van
ons immigrasie was boerewors so skaars soos
hoendertande en kon jy net lekker boerewors gekry
het as jy die slag Auckland toe gegaan het. Ek en my
neef Henry Enslin het toe met verskeie boerewors
resepte begin eksprimenteer (sien die storie
"Chilliwors").
Ons het 'n
lekker en eenvoudige resep saamgeslaan uit die
dosyne resepte wat ons gekry het en hierdie resep
het net speserye in wat jy sommer by jou plaaslike
supermark (of Chinese winkel) kan koop. Die wors sal
seker nie pryse wen nie, maar dit gaan heeeeeel goed
af!!
Oor
worsmaak so 'n vreeslike besigheid is maak ons
deesdae net "patties" van die vleis of sit die
worsvleis in 'n skilferkorsdeeg vir vingerlek lekker
vleispasteitjies.
Die resep
is vir 2 Kilogram maalvleis. Die lekkerste "patties"
kry jy van 'n mengsel van bees-en vark maalvleis. As
jy 1 Kilo bees en 1 Kilo vark meng kry 'n
ongelooflike lekker pattie wat nie heeltemal so
droog is nie. Die enigste probleem as jy net "Prime
Beef mince" gebruik is dat die pattie effens droog
is, daarom is daar 200ml sonneblomolie in die resep.
Eksperimenteer maar self met die bestanddele.
RESEP:
-
2 Kg
beesmaalvleis of 1 Kg bees en 1 Kg vark.
-
10 gram
Aromat of MSG (Monosodium Glutamate) - (Kan uitgelos
word as jy nie het nie).
-
12 gram
gemaalde koljander (probeer om die koljander self te
maal - ek gebruik sommer die elektriese
koffiemeultjie en spoel hom dan vinnig uit as ek
klaar is - maak my vrou baie moedeloos!).
-
¾ - Driekwart gelykvol
teelepel fyn naeltjies ("Cloves").
-
¾ - Driekwart gelykvol
teelepel fyn neutmuskaat ("Nutmeg").
-
1½ - Een-en 'n half
teelepel fyn swart peper.
-
30 gram sout.
-
200 ml
moutasyn ("Malt vinegar").
-
200 ml
sonneblomolie (as die vleis min vet het).
Meng alles
saam, laat staan so 30 minute en maak lekker
"patties" of vleispasteitjies.
Geniet
dit!!
PS:
Omtrent al die SA slaghuise in Auckland sal vir jou
boerewors met 'n oornag koerier stuur as jy dit
bestel.
Ons
vriendelike SA slaghuis in Hamilton (www.elitemeats.co.nz)
sal vir jou die lekkerste biltong, droëwors,
chillibites, boerewors, ens. oornag koerier na enige
plek in NZ. Bel hulle net, jy sal nie vriendeliker
mense in NZ kry as die span by Elitemeats nie!!
|
 |
| |
 |
|
 |
 |
| |
 |
|
^^ TERUG NA BO |
 |
| |
|
 |
|